Opinion

{MENINGSTUK} – Kleurvolle trekkertjie in Borderstraat gee hoop

Die ou, voorheen-geroeste trekkertjie in Borderstraat skitter nou met 'n vars verflaag.

Wayne van der Walt, Hoëvelder- redakteur

Diegene wat dalk daagliks in Borderstraat verbyry sou gesien het dat iets anders is.

‘n Kleurvolle trekkertjie, ‘n ou geroeste trein en waentjie staan langs die pad.

Die trein, trekker en waentjie is egter nie ongewoon of nuut in die dorp nie, maar dit is die vars laag verf in die tipiese en welbekende John Deere-kleurstyl daarop wat my, en ek is seker ook baie ander, se aandag gevang het. Dit is asof die trekker uitroep: “Hier is ek, kyk na my!”

Die geroeste trein wat in die veld langs Borderstraat staan.

Ek dink toe sommer, hierdie verandering is maar nou net weer ‘n bevestiging dat ‘n bietjie aandag aan detail en nuwe lewe aan bekende elemente ‘n wesenlike verskil kan maak.

Die feit dat iemand die inisiatief geneem het om die verfkwassie op te tel en die trekkertjie te verfraai, laat my glo dat ons nie net bystanders hoef te wees in die opknapping van ons dorp nie.

Hierdie eenvoudige, dog betekenisvolle daad is ‘n klinklare bewys dat selfs klein veranderinge ‘n groot impak kan hê.

Ons gemeenskap is nie net ‘n samevoegsel van strate en geboue nie, maar eerder ‘n lewendige uitdrukking van ons identiteite en trots. Ons moet onsself vra: Wat kan ons nóg doen om ons dorp nóg beter en meer uitnodigend te maak?

Nog ‘n leë doek wat wag vir ‘n skilder om ‘n bietjie toorkuns te verrig.

Daar is nog ‘n waentjie en trein wat staan en roes opgaar. Dalk is dit tyd om hierdie skatte op te tel en hulle ‘n nuwe kans op lewe te gee. Elke bietjie verf, elke bietjie moeite, kan ‘n verskil maak.

Persoonlik gee die trekkertjie my hoop in ons vermoë om verandering teweeg te kan bring. Ons kan die gewone buitengewoon maak, een verflaag op ‘n slag.

Miskien kan ons die persoon agter hierdie skitterende gebaar aanmoedig om na vore te kom sodat ons vir hulle dankie kan sê vir hulle bydrae.

Mag ons voortgaan om ons dorp een trekkertjie en een verflaag op ‘n slag beter te maak.

Related Articles

 
Back to top button