Ermelo Rugbyklub is Mpumalanga Seniorliga-kampioene
Rotsvaste verdediging en mannemoed het verhoed dat die tuisspan in die tweede helfte verder punte kon aan teken.
Om terug te veg van ‘n rustydtelling van 3 -18 en dan die wedstryd uiteindelik met 22 – 18 te wen, en dit voor jou teenstanders se tuisskare, getuig van durf, vasberadenheid, doelgerigtheid en ‘n wil om te wen.
Dit is presies dié eienskappe wat Ermelo Rugbyklub se eerstespanspelers die afgelope Saterdag aan die dag gelê het toe hulle Loskop Rugbyklub in die eindstryd van die Mpumalanga Senior Rugbykampioenskapliga geklop het en as vanjaar se kampioenspan gekroon is.
Dié oorwinning kom ook nadat Ermelo vroeër vanjaar teen die einste Loskop-span in ‘n uitspeelwedstryd met 38-3 verloor het.
Saterdag se wedstryd wat op Groblersdal gespeel is, is een wat nie gou vergeet sal word nie.
Met die eerste helfte agter die rug en ‘n gerieflike voorsprong van 15 punte (18-3) op die telbord, kon die Groblersdallers al ‘n oorwinning ruik. Ermelo se punte het gekom van ‘n strafdoel deur Rohan Stander.
Tydens rustyd het Ermelo se afrigter, Jacques “Vuil” Strydom, egter hard en duidelik met die manne gepraat of soos hy dit gestel het “die ouens mooi laat weet het hulle moet wen”.
Dit was ‘n begeesterde klomp Ermeloërs wat vir die tweede helfte uitgedraf het en die tuisspan met mannemoed en rotsvaste verdediging verhoed het om verder punte aan te teken.
‘n Drie deur Henkie Jacobs, wat verdoel is deur Rohan Stander, en ‘n verdere 12 punte deur Rohan se skopskoen (drie strafdoele en ‘n skepskop) het aan die Ermeloërs ‘n oorwinning van 22-18 besorg.
‘n Uitbundige klomp Ermeloërs het die trofee in ontvangs geneem.
In die tweede span se wedstryd het Ermelo met 17-10 oor Loskop geseëvier en só ook die kampioenskap beklink. Die rustydtelling was 14-3 in Ermelo se guns.
Vir Ermelo het JP Fourie en Wayne Burger drieë gedruk. DC Swart het twee doelskoppe en ‘n skepskop tussen die pale deurgestuur.
Ermelo Rugbyklub bedank hul borge, Major Steel, Rothman Motors, Industrial Weld, Ermelo Fire & Signs, Deo Data en Obies Elektries vir hul ondersteuning die afgelope seisoen.



