Sport

Ermelo-ryers maak hul merk by Roof of Africa 2026

Plaaslike motorfietsryers het hul staal gewys tydens vanjaar se Roof of Africa in Lesotho, met die 16-jarige Paulus van Niekerk Junior wat die Bronsklas gewen het.

Plaaslike motorfietsryers het hul staal gewys tydens vanjaar se Roof of Africa in Lesotho, met die 16-jarige Paulus van Niekerk Junior wat die Bronsklas gewen het en die 18-jarige Stiaan van den Heever wat tweede in die Silwerklas geëindig het.

Van Niekerk het die strawwe kompetisie oor 11 skofte oorheers en die Bronsklas met ’n algehele tyd van 08:12:30 gewen. Hy het sy naaste mededinger, Stuart Pearce, met meer as 27 minute geklop.

Die Roof of Africa, wat ook as die Mother of Hard Enduro bekend staan, het vanjaar vir die 59ste keer plaasgevind.

Stiaan van den Heever. Foto | Action in Motion


Die wedren het in 1967 begin en word in Lesotho aangebied. Ryers moes oor drie dae tussen 250 en 350 km aflê, op hoogtes wat wissel van 1 400 meter tot meer as 3 000 meter bo seespieël.

Die uitdagende roete het onder meer steil donkiepaadjies, rivierbeddings en rotsagtige passe ingesluit.

Ryers moes dikwels GPS-navigasie gebruik om deur ongemerkte gebiede te beweeg.

Roof of Africa word in verskillende klasse verdeel, waaronder goud, silwer, brons en yster.

Paulus van Niekerk. Foto | Action in Motion


Van den Heever, ’n leerder van Ermelo Hoërskool, het ’n algehele tweede plek in die Silwerklas behaal. Die 18-jarige was een van die jongste ryers in die klas en was verlede jaar die Bronsklaswenner.

Van den Heever en Grant Durham was in ’n strawwe stryd en is aan die einde deur slegs 57 sekondes geskei.

Greg Hodgskin het ook in die Silwerklas meegeding en ’n algehele 34ste plek behaal.

Die 17-jarige Willem Jacobsz het in die Bronsklas meegeding.

Niel Rautenbach. Foto | Action in Motion


Jacobsz het konstant gery en op dag drie in die 19de posisie weggespring. Met 31 km oor het hy egter ’n ongeluk gehad en kon nie die wedren voltooi nie.

Ermelo was ook in die Ysterklas teenwoordig, waar 134 ryers meegeding het.

Gordon Gilbert (14) het ’n algehele 40ste plek behaal, terwyl Niel Rautenbach die klas in die 53ste plek afgesluit het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button