Elzaan Venter van Ermelo is ‘n vrou met woema
Elzaan sê dat sy en Johan voor elke ronde sal bid en mekaar sal fist bump, en dan volg die stilte waarin hulle net op die wegspring sal fokus.
Elzaan Venter se eerste kennismaking met die motorsportwêreld was op die ouderdom van 16, kort nadat haar pa, Kenneth Venter, ovaalbaanwedrenne begin ry het.
In 2019 het sy as Johan Strauss se navigator EXE-wedrenne begin ry.
Haar eerste wedren kan sy nog baie goed onthou. Sy sê dat hulle toe nog ’n Toyota-bakkie gery het.
“Daar was vier rondes in die wedren gewees, waarvan my pa twee gedoen het en ek die ander twee, net om die gevoel van die kompetisie te kon kry,” het Elzaan gesê.
Hoewel haar senuwees haar byna ondergekry het, het sy verlief geraak op die spoed en adrenalien.
Elzaan sê sedert haar eerste keer agter die padkaarte het sy al baie met die lees van die aanwysings verbeter.

Voor elke wedren gaan sy verskeie kere deur die aanwysings en merk dit noukeurig met verskillende kleure.
Sedert dié tweestuks agter die stuur van hul Subaru ingeklim het, het Elzaan vertel dat sy die spoed van dié wedrenne geniet het.
ALSO READ: Wors and André seal the victory at Womza Autobar 150 Rally in Bronkhorstspruit
Haar grootste herinnering van die EXE was in Februarie vanjaar, toe sy en Johan tydens ‘n resies op een van die bane deur die lug geseil het.
Vir die toeskouers het dit dalk na ‘n goed beplande oomblik gelyk, maar sake binne-in die Subaru was presies die teenoorgestelde.
“Dit was seker nog die hoogste wat ons kar gejump het, en dit was baie onverwags gewees.”

Met die volgende skerp draai slegs 160m voor hulle, was daar geen tyd om aan die massiewe sprong wat hulle sopas gemaak het, te dink nie.
Elzaan sê dat sy sedert haar eerste dae van motorsport die pas teen wat die aanwysings gelees moet word, opgetel het en dat foute nie so gereeld insluip nie.
SIEN OOK: GALERY – Ermelo-renjaers la’t wiel! by TRACN4 Rally in Dullstroom
Die verhouding tussen die drywer en navigator word op vertroue en goeie kommunikasie gebou, en Elzaan glo ook dat dit hulle resep vir sukses is.
Vir stry en baklei is daar nie in die voertuig tyd nie, maar beide dié drywer en navigator laat mekaar weet wanneer die ander een die pad byster raak.
“Ek streef met elke wedren om myself te verbeter sodat ons as span ook kan verbeter, want die uitvoering van die navigator het ’n groot impak op die drywer.”
Die aand voor elke wedren word Elzaan se klere en benodighede noukeurig gepak om te verseker dat alles gereed en in plek is, voor sy weer die aanwysings deurgaan.
Elzaan sê dat sy en Johan voor elke ronde sal bid en mekaar sal fist bump, en dan volg die stilte waarin hulle net op die wegspring sal fokus.
Die eerste paar oomblikke net voor en net ná die wegspring is gevul met intensiteit en die spanningsvlakke loop hoog, maar slegs splitsekondes daarna skop die adrenalien en ure se voorbereiding vir die wedren in.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



