Ligbron-onderwyseres blink uit by Meestersatletiek
Grobler het een goue medalje, drie silwer medaljes en een bronsmedalje verower, en kwalifiseer vir die SA-kampioenskappe wat op 1 Mei plaasvind.
Elmarie Grobler, ’n Afrikaanse onderwyseres van Ligbron Akademie vir Tegnologie, het onlangs tydens die Gauteng-Noord Meestersatletiekbyeenkoms aan die vyfkamp deelgeneem en vyf medaljes ingepalm.
Die vyfkamp bestaan uit twee baanitems, 100 m en 200 m, asook drie velditems: gewigstoot, diskus en hamergooi.
Grobler het een goue medalje, drie silwer medaljes en een bronsmedalje verower, en ook gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat op 1 Mei in Germiston sal plaasvind.
Grobler se atletiekloopbaan het reeds tydens haar hoërskooljare in Pretoria begin, waar sy veral in die 400 m en diskus uitgeblink het.
Sy het Noord-Transvaal-kleure in diskus verwerf. Ná skool het sy haar fokus na afrigting verskuif en vir ’n tyd lank nie self deelgeneem nie.
In 2014 het sy weer begin oefen saam met haar atlete, en twee jaar later het sy aan die Vrystaatse Ope Atletiekbyeenkoms deelgeneem.
Haar prestasie het haar vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe laat kwalifiseer, waar sy later eerste geëindig het.
Sedertdien het sy haar provinsie vir sewe jaar lank op die baan en veld verteenwoordig en ’n totaal van 78 medaljes ingesamel.
Sy het vertel dat diskus haar gunsteling item bly. As afrigter het sy haar egter op naellope toegespits.
Sy is veral trots op Ligbron-atlete soos Terry Jayaguru wat in 2022 saam met sy drie Mpumalanga-spanmaats die Suid-Afrikaanse kampioene in die 4×400 meter-aflos was.
Jayaguru speel tans Amerikaanse voetbal in die VSA.
Nog twee atlete wat uitstaan is Asanda Babuza en Siyanda Mkonza, wat opgeneem is in die Mpumalanga 4x100m aflosspan en ook met die louere tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe weggestap het.
Grobler het gesê haar kinders, Lana en Marco, is haar grootste ondersteuners en baie trots op haar prestasies. Buiten atletiek is sy ook ’n kunstenaar wat verf as medium gebruik.
In die onderwys het sy haarself gevestig as een van die provinsie se voorste Afrikaanse onderwyseresse en dien sy reeds vir ’n aantal jare as provinsiale interne moderator vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal, vraestel 3.
Ligbron eer hierdie uitsonderlike lid van hulle personeel vir die prestasies wat sy behaal het en sien met verwagting uit na dit wat sy nog gaan bereik.



