Hengelaars geniet suksesvolle Basa-kompetisie by Ons Pan
n Groot opkoms, goeie gees en indrukwekkende vangste het die Ermelo Basa Sosiale Hengelklub se sesde hengelkompetisie by Ons Pan gekenmerk, waar Jaco Oosthuizen met die grootste karp van die dag die eerste plek ingeneem het.
‘n Groot groep hengelaars het op 27 Junie by Ons Pan byeengekom vir die Ermelo Basa Sosiale Hengelklub se sesde hengelkompetisie van die jaar.
Volgens die klubvoorsitter, Jaco Oosthuizen, is die dag goed bygewoon en het deelnemers die geleentheid geniet om saam aan hul gunstelingtydverdryf deel te neem.
Oosthuizen het die eerste plek ingepalm nadat hy die grootste karp van die dag gevang het.

Pieter Mostert het tweede geëindig, terwyl Daniel Olivier die derde plek behaal het.
Benewens die kompetisie het die dag ook aan hengelaars die geleentheid gebied om ervaring uit te ruil en tyd saam langs die viswaters deur te bring.

Oosthuizen sê die klub verwelkom nuwe lede en nooi enigeen met ‘n belangstelling in hengel om aan te sluit.
“Ons geniet dit om mense bymekaar te bring wat ‘n passie vir hengel deel. Almal is welkom, ongeag hul ervaring,” het hy gesê.
Belangstellendes wat by die Ermelo Basa Sosiale Hengelklub wil aansluit, kan Oosthuizen by 082 336 6937 kontak of die Basa Sosiale Hengelklub se Facebookblad besoek vir meer inligting en die datums van toekomstige kompetisies.




