Sport

Billy van der Walt triomfeer in weltergewig-geveg by Moer ’n Boer Seisoen 3

’n Vroeë aanval het Van der Walt onder druk geplaas, voordat sy krag die deurslag teen Coetzee gegee het.

Ermelo se eie Billy van der Walt het pas sy weltergewig-geveg teen Zandro Coetzee van Ventersdorp gewen in die derde seisoen van Moer ’n Boer.

Coetzee, wat 181 cm lank is met ’n reikwydte van 191 cm teenoor Van der Walt se 175 cm en 185 cm, het vinnig uit die blokke gespring.

Coetzee het dadelik met ’n kombinasie van houe aangeval en dit het gelyk asof Van der Walt vroeg ’n ligte tuimeling geneem het voordat Coetzee hom in ’n guillotine-wurggreep probeer vasvang het.

LEES OOK: Sias Greyling wys veggees in intense Moer ’n Boer-geveg teen Carel Davin

“Riteling” Van der Walt — soos hy op die program gedoop is — het egter gewys wat in hom steek.

Hy het sy kop losgewikkel en verbete terugbaklei.

Coetzee het daarin geslaag om Van der Walt teen die hok vas te druk terwyl hy hom in ’n kopslot vasgehou het, maar Van der Walt se pure krag het na vore gekom toe hy hom skielik optel en met ’n kragtige plattrek-gooi op die mat neersit.

MMA-geveg tussen Billy van der Walt en Zandro Coetzee in die hok by Heartfelt Arena Pretoria vir Moer 'n Boer Seisoen 3.
Billy van der Walt en Zandro Coetzee pak mekaar in die weltergewig-stryd by die Heartfelt Arena in Pretoria tydens Moer ‘n Boer Seisoen 3. Video: Moer ’n Boer / YouTube

Coetzee het swaar op sy arm te lande gekom en Van der Walt het die geleentheid benut, Coetzee se rug geneem en hom met ’n agterwurg laat oorgee.

Sien die geveg: HIER

Van der Walt het met die nageveg-onderhoud begin deur te sê:

“Voor ek enige iets sê, wil ek ere gee aan Jesus Christus my God, my alles, dankie Jesus, my Lord en Savior Jesus Christ.”

Op die vraag wat gebeur het toe die geveg begin het, waar dit gelyk het of Coetzee dalk vir Van der Walt moontlik onkant gevang het, het Van der Walt gesê:

“Ek weet regtig nie wat gebeur het nie, ek het net gedoen wat ek moes.”

Die geveg het by die Heartfelt Arena in Pretoria plaasgevind.

Terwyl die Heartfelt Arena se skare nog gons oor sy skouspelagtige gooi, bars Ermelo behoorlik van die trots.

Kotzé laat dit vuishoue reën

Nog ’n oud-Errie wat die skare op hul voete gehad het, is die robuuste Gustav Kotzé, wat op Piet Retief boer.

Kotzé het sake uitgespook teen Jayden Saraiva van Heidelberg, Gauteng.

Die geveg het teen ’n ysingwekkende tempo begin. Dit was duidelik dat Kotzé nie gekom het om te speel nie – hy het van die eerste sekonde af swaar hande geswaai en aanhoudend vorentoe beweeg.

Saraiva het vroeg reeds sy tande gewys deur Kotzé in ’n kopgreep vas te vang, maar die stugge boer het bloot bly swaai en gevaarlike houe bly plant.

Ten spyte van ’n paar harde kniehoue deur Saraiva, het Kotzé die pas van die geveg volkome dikteer.

Gevegstatistieke van Gustav Kotzé en Jaydon Saraiva voor hul geveg tydens Moer ’n Boer.
Die gevegstatistieke van oud-Errie Gustav Kotzé en Jayden Saraiva van Heidelberg, Gauteng, voor hul geveg. Video: Moer ’n Boer / YouTube

Die kommentators was vol lof vir Kotzé se dodelike reguit houe, aangesien hy verreweg die meeste trefhoue opgebring het. Hy het Saraiva teen die hok vasgedruk en ’n vernuftige Dagestani Handcuff toegepas—wat sy opponent se hand vasgepen het—terwyl hy met die vrye hand op hom losgebrand het.

Die eerste ronde het in ’n warboel van vuishoue geëindig.

Die tweede ronde het presies voortgegaan waar die eerste een opgehou het.

Hoewel Saraiva die houe soos ’n kampioen geabsorbeer het en self later in die ronde goeie trefhoue ingekry het, het Kotzé hom uiteindelik mat toe gevat.

Dis hier waar Kotzé volle beheer geneem en die houe laat reën het.

Die skeidsregter moes uiteindelik tussenbeide tree en die geveg stop om Saraiva te beskerm.

Sien al die gevegte en ander episodes op die Moer ’n Boer-kanaal op YouTube.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button