Die Ermelo-stoeiklub sal op 20 Januarie vir bestaande lede heropen, en hulle nooi ook enige nuwe stoeiers, ongeag hul vaardigheidsvlakke, uit om by die klub aan te sluit en hul stoeivernuf op die proef te stel en te verbeter.
Stoeiers van so jonk as vyf kan reeds by die klub aansluit om ’n gevoel vir die sport te kry.
Stoei is nie net uitstekend vir liggaamsbou nie, maar beïnvloed ook verskeie ander fasette soos dissipline, geestestoestand, karakterontwikkeling, fiksheid, selfverdediging en meer.
Hier word daar gefokus op die belangrikheid van harde werk, toewyding en selfbeheersing.

Verlede jaar het vele prominente stoeiers in hul onderskeie ouderdoms- en gewigafdelings sukses op provinsiale en nasionale vlak behaal.
Stoeisessies begin stiptelik om 18:00 en duur tot 19:00. Dit word, afgesien van die opwarming, in ouderdomsverband uitgevoer en behels normaalweg die volgende: opwarming, tegniekonderrig, toepassing van geleerde tegnieke, stoei teen ander stoeiers om tegnieke in strategie te inkorporeer, en touklim (onder toesig van die afrigters).
Belangstellendes kan gerus die stoeiklub se sekretaresse, Gisela Bisschoff, by 082 551 0026 skakel.



