Vermiste man van Groblersdal en bakkie gevind
Daar is 'n grootskaalse soektog geloods na Willem Kruger meer as 'n week gelede vermis geraak het.
Die soektog na Willem Kruger (29) het vanoggend in tragedie geëindig nadat hy en sy bakkie in die Vaalrivier gevind is.
Privaat ondersoeker Mike Bolhuis het aan Middelburg Observer bevestig dat die bakkie, met Willem nog in die bakkie, om 10:45 deur die polisieduikers gekry is.

Kruger het nege dae gelede verdwyn, toe hy by ’n rampartytjie by Henbase Lodge tussen Morgenzon en Amersfoort in Mpumalanga was.
Daar is eers vermoed dat hy êrens onderweg na sy huis naby Groblersdal vermis geraak het. Die soektog het egter op die lodge en omliggende areas gefokus nadat sy bakkie nie deur sekuriteitskameras op die hoofpaaie opgetel is nie.

Bolhuis noem dat die bakkie net links van die Henbase Lodge naby ’n laagwaterbruggie gekry is.
“Ons wil op hierdie stadium net vra dat die familie se privaatheid gerespekteer word. Van my en my span se kant af, wil ons, ons innige simpatie en medelye uitspreek teenoor Willem se familie.”
Read original story on www.citizen.co.za