Local newsNews

Rare liefde

Eers was die liefde tussen 'n weesrenosterkalfie en 'n Damara-skaap stormagtig, maar nou is dit 'n ander verhaal.

Dis ‘n andersoortige liefde wat ‘n mens hier by die Leeu- en Renosterreservaat in Kromdraai kry.

Bruiser, ‘n weesrenosterkalfie wie se ma in Mpumalanga deur stropers doodgemaak is toe hy net ‘n paar weke oud was, het hier ‘n hegte band met Stoffel, die plaaslike Damara-skaap.

Aan die begin was hulle liefde beslis nie maanskyn en rose nie en sou mens dit amper as stormagtig kon beskou.

Edward Hill, die kurator van die creché-afdeling van die reservaat wat ook na ander babadiere in aanhouding omsien, het self op sy manier vir die weesrenosterkalfie lief geword nadat die angstige kalfie hulle aanvanklik vol blou kolle gestamp het. Selfs Stoffel het deurgeloop. So het Bruiser dan sy naam gekry.

“Hy was net nege weke oud en het na sy ma gesoek. Hy was eers baie wild omdat hy nog aan die nuwe reuke en gesigte moes gewoond raak,” het sy aangenome pa (Edward) gesê terwyl hy vir hom sy middagete – ‘n vyfliterbottel-formulemelk – gevoer het.

“Dit het baie lank geneem om hom aan ons gewoond te maak, maar omdat renosters baie sosiaal is en kameraadskap nodig het, het hy dit in Stoffel gevind.”

Die verhouding tussen hulle is so sterk dat Stoffel sy renostervriend orals volg. So nou en dan jaag hulle mekaar in die kamp rond.

“Al wat hulle van mekaar skei is dat Stoffel maar met sy gras tevrede moet wees wanneer Bruiser sy melk kry,” het Edward vertel.

“Maar ons het hulle al saam sien eet aan die lusern en korrelkos wat in die kamp neergesit word.”

Edward sê dit is duidelik dat hulle lief is vir mekaar, maar op ‘n ander vlak wat mense seker nie sal verstaan nie.

Dit lyk of die teorie dat liefde ‘n emosie is wat net mense kan ervaar, nie juis by die Leeu- en Renosterreservaat geld nie.

Wat hierdie twee vir Valentynsdag beplan sal ons maar moet sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button