EntertainmentLifestyleLocal newsNews

[VIDEO] Sterbelaaide pre-première by historiese lodge

Die geleentheid is by Askari gehou omdat daar 'n mooi en direkte verbintenis met die film is.

‘n Baie eksklusiewe geleentheid is aan die begin van Maart by ‘n historiese lodge, wat omring is deur die Magaliesberge, aangebied.

Bekroonde akteurs, vervaardigers en nasionale sowel as plaaslike media is genooi na die langtafelete as deel van die pre-première van die nuwe Afrikaanse film Modder en Bloed. Dit is by Askari Game Lodge gehou.

Modder en Bloed speel af teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog en vertel die verhaal van ‘n groep brawe Boere wat op die eiland St Helena in die Atlantiese Oseaan aangehou word. Hulle gaan gebuk onder die wreedheid van die Britse imperialis kolonel Swannell (Grant Swanby) en wanneer een van hulle eie mense se lewens op die spel is, gaan hulle ‘n gevaarlike weddenskap aan om die belangrikste wedstryd van hul lewens te speel.

Die rolprent spog met een van die grootste rolverdelings in ‘n plaaslike film en sluit Suid-Afrikaanse akteurs soos Stian Bam, Altus Theart, Edwin van der Walt, Deon Lotz, Bok van Blerk, Albert Maritz, Jacques Bessenger, Albert Pretorius en David Louw in. Britse akteurs soos Patrick Connolly, Josh Myers en Nick Cornwall het ook rolle in die film.

Britse aktrise Charlotte Salt, wat internasionaal bekend is as rolprent- en televisie-aktrise, het die 10 Maart premiere van die film by The Zone in Rosebank bygewoon. Charlotte vertolk die rol van Katherine Sterndale.

Die geleentheid is by Askari gehou omdat daar is ‘n mooi en direkte verbintenis met die film is.

Voor die Anglo-Boereoorlog het die Bodenstein-familie op die grond waar Askari vandag is, geboer. Gedurende die oorlog is die pa, Johannes Casper Bodenstein (1855-1929) en sy oudste seun Cornelius Johannes Bodenstein (1879-1978) gevang en op St Helena gevange gehou (1902-1903). Die fliek speel in hierdie presiese tyd af en ook op St Helena-eiland.

Hulle het na hul vrylating terugekeer na die plaas (nou Askari) toe maar dit was afgebrand tot op die grond as deel van die Britse soldate se verskroeide aarde beleid. Hul vroue en kinders was in die konsentrasiekampe. Nadat die familie weer verenig is, het hulle die plaashuis herbou (dit is tans die basis van die restaurant by Askari).

Die jongste seun en jonger broer, Hendrik Albertus Stefanus Bodenstein het toe die ergste denkbare sonde gepleeg en met ‘n Engelssprekende meisie getrou. Hy het toe in Randfontein gaan woon waar hy in die myn gewerk het. Hy was ‘n lid van die Volksraad vir Randfontein vanaf 1943 tot 1948.

Tydens die geleentheid het gaste ‘n voorsmakie gekry van die intensiewe werk wat in die film ingeploeg is terwyl tradisionele boerekos bedien is.

Modder en Bloed word op 1 April landswyd in teaters uitgereik.

Verwante artikels:

Moed, dapperheid en kameraadskap in die hart van die nuwe Suid-Afrika

Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk (VK) span kragte saam op

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button