Onlangs het Julie Hurn, ‘n rolbalspeler van Noordheuwel Rolbalklub, ‘n groot prestasie behaal.
Sy het tydens hul jaarlikse kompetisie sewe wedstryde gespeel waarvan sy vier gewen en drie tweede plekke behaal het.
Julie is 79 jaar oud, maar steeds jonk van gees. Sy speel al 13 jaar rolbal en het dié sport begin beoefen nadat haar man baie siek geword het en sy ‘n bietjie afleiding nodig gehad het.
“Rolbal is goed vir jou gees, goeie oefening en die spelers het baie goeie spangees,” het Julie gesê.
Die klub waaraan sy behoort het ongeveer 90 spelers van oud tot jonk. Die klub se jongste speler is 14 jaar oud. Die klub verskaf opleiding en die lede speel elke Woensdag en Saterdag sosiale wedstryde.
“Ek wen elke jaar ‘n paar bekers, maar dié jaar het ek myself oortref,” het Julie vertel.
Julie is ook die oudste besigheidsmakelaar aan die Wes-Rand en bedryf haar eie suksesvolle besigheid sedert 1982.
Sy het ook gesê dat sy deur die spel baie vriende gemaak het en dat dit glad nie ‘n duur sport is nie.
“Ek wil speel tot ek eendag nie meer kan loop nie,” het Julie trots gesê.
Die News wens vir Julie geluk met die besonderse prestasie.
Lees meer:
Local bowling club triumphs at championship
