Editor's choiceLocal newsNews

Vrywilligers ontdek dwelms by dam

"Verder het ons ook ontdek dat die eende en duiwe wat in die omgewing woon, siek en die meeste van hulle beseer was."

Twintig vrywilligers het onlangs die skok van hul lewens gekry toe hulle besluit het om rondom Kroningsdam skoon te maak.

Die groep het op 12 November besluit hulle gaan ‘n Kyk na die Natuur-dag hê en is om 10vm daardie dag na die dam toe.

Die doel van die dag was om mense bewus te maak van die slegte toestand waarin die dam en die perseel is.

“Ons het begin deur die waterfront skoon te maak en was geskok deur alles wat ons aangetref het,” het Frandré van der Westhuizen, een van die vrywilligers gesê.

Tydens die skoonmaaksessie het die vrywilligers besef dat die area vuiler en gevaarliker is as wat enigeen van hulle werklik besef het. Hulle het van gebruikte kondome tot gebreekte bottels en selfs toiletdeksels opgetel. Tot hul verbasing het hulle ook gebruikte naalde en dwelms op die perseel gevind.

“Verder het ons ook ontdek dat die eende en duiwe wat in die omgewing woon, siek en die meeste van hulle beseer was. Ons vermoed die diere is so siek aangesien hulle area so besoedel was.”

Die vrywilligers het ook swart sakke uitgedeel aan gemeenskapslede wat daar visgevang het en was verbaas toe hulle ook begin rommel optel het.

“Ons het agtergekom die vullisbakke wat wel op die perseel staan, stukkend is. Ons glo nie hulle word ooit leeggemaak nie.”

Die groep was tot laat besig en het 42 sakke vol vullis opgetel. Hulle het die sakke na Mogale City se stortingsterrein geneem waar die werkers dit geweeg het. Volgens Frandré het die sakke in totaal amper ‘n ton geweeg.

“Ons hoop rêrig dat mense bewus word van die slegte toestand van die dam en dat daar aksie geneem sal word om dit ‘n veiliger en skoner area te maak, want ons almal geniet tog die dam al jare lank.”

Die groep bedank Martins Funerals en Jaques Koekemoer wat van die gereedskap en sakke wat hulle nodig gehad het om die perseel skoon te maak, geborg het.

Lees ook

VIDEO Ja ek bedel vir dwelms

Bedelaar bêre dwelms onder sy bed

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button