
Op die aand van 14 Maart om 7.45nm het ek ‘n hartaanval by die huis gehad, en ek het toe vir my vrou gesê dat ons dadelik by ‘n dokter moes uitkom.
Ons was so teen 7.55nm by Medicross. Hulle ligte was aan en daar was nog personeel binne, maar die hoofhek was reeds toe.
Ons het nie geweet waarnatoe om te ry nie, en ek het toe vir my vrou gesê sy moet my maar Dr Yusuf Dadoo Hospitaal toe neem.
Ons het daar aangekom, na Ongevalle toe geloop en ons is dadelik gehelp – dit terwyl daar ander pasiënte voor my daar was.
Hulle het my dadelik gevra wat makeer, waarop ek geantwoord het, “Ek dink dis ‘n hartaanval”.
Hulle het my dadelik op ‘n bed gekry, onmiddellik ‘n EKG gedoen, ‘n drup ingesit en vir my ‘n morfieninspuiting gegee.
Hulle het toe bloed getrek, maar aangesien hulle laboratorium nie 24 uur oop is nie, moes hulle dit Leratong Hospitaal toe stuur.
Dit was omtrent 9.30nm.
Die toetsuitslae het wel eers die volgende dag om 11.20vm teruggekom, maar dit was nie die Dr Yusuf Dadoo-personeel se skuld nie. Ek wil persoonlik dankie sê aan dr Rodney Pheto vir sy spoedige, vriendelike en behulpsame diens.
Hy is ‘n fenomenale dokter en as dit nie vir hom was nie, wie weet wat sou gebeur het? Hy is ‘n flippen goeie dokter; hy het selfs grappe gemaak om my te help ontspan. Terwyl ek die nag daar gelê het, het daar baie gevalle ingekom, en ek kan eerlikwaar sê dat die personeel alles in hulle vermoë gedoen het om na pasiënte om te sien – selfs al vloek en skel witmense hulle uitmekaar uit.
Ek dink die mentaliteit van die publiek moet verander, want ons is te gou om op ons perdjies te spring as ons nie dadelik gehelp kan word nie, en dan moet die mense wat daar is om die publiek te help daaronder ly.
Ek meen as jy jou werk doen na die beste waartoe jy in staat is, en jy kry ‘n vuil houding van die publiek af, gaan jy nie ook onbehulpsaam raak nie?
Ek dink ons is net te gou om altyd te fokus op die negatiewe en daarmee koerante toe te hardloop, maar wat van al die goeie dinge?
