Ebies-eerstes is reg vir veg in hul nuwe truie
Laerskool Ebenhaeser se eersterugbyspan spog deesdae met splinternuwe rugbytruie.
Die blitsvinnige manne van Laerskool Ebenhaeser se eersterugbyspan is nie net reg vir hierdie seisoen nie; hulle gaan beslis die koppe laat draai.
Die Ebies-eersterugbyspan het onlangs splinternuwe truie gekry en dit is als te danke aan Lombaard Tyres in samewerking met Goodwright.

Foto: Natasha Pretorius.
Volgens Paul du Toit, die afrigter, het die span jare laas nuwe truie gekry en die nuwe truie gee vir die spelers selfs ‘n bietjie meer selfvertroue.
Paul het ook gehelp met die ontwerp van die truie, en die goud, swart en wit spinnekop daarop is beslis iets wat mens nie sommer sal vergeet nie.
“Ek dink ons span staan hierdie seisoen ‘n goeie kans. Hulle oefen baie hard,” het Paul vertel.
“Ons loop ‘n lang pad saam met die skool en die truie het toe net gebeur, maar dit was lekker om deel te wees van die truieborgskap. Dit is lekker om te weet die seuns gaan nuwe selfvertroue hê as hulle op die veld draf,” het Yolandi Heyns, bemarkingsbestuurder vir Lombaard Tyres gesê.
Sy het verduidelik dat die span iets soortgelyk aan die Leeus-span se truie wou hê en dit is waar die spinnekopontwerp ontstaan het.
Hulle wil graag vir hul tweedespan ook nuwe truie gee en is op soek na borge wat dié truie kan borg.

