School sportSport

Skouspelagtige laerskolerugby by Monnas

Agt rugbyunies van die Noordelike provinsies het onlangs saamgetrek om mekaar op Monnas se velde die stryd aan te sê.

Die heel beste o.12- en o.13-rugbyspelers in die land het mekaar onlangs die stryd aangesê op Hoërskool Monument se rugbyvelde. Dit het twee dae se skouspelagtige rugby opgelewer.

Die Thys Bezuidenhout Provinsiale Rugbydag is op Monnas se rugbyvelde aangebied en die rugbymanne van die Noordelike Unies het saamgetrek om te bepaal wie die beste span is.

‘n Valke-speler op pad doellyn toe.

Thys Bezuidenhout was vir jare nie net die voorsitter van die Goue Leeus Laerskole Rugby Unie (GLLRU) nie, maar ook die voorsitter van SA Skolerugby. Op grond van sy goeie leierskap en die verskil wat hy in laerskolerugby gemaak het, het die Unie besluit om die rugbydag na hom te vernoem.

Donna Lourens, huidige voorsitter van die GLLRU het gesê dat dit vir hulle ‘n eer was om as gasheer van die toernooi op te tree.

Nagenoeg 600 spelers van die Bulle, Luiperds, Valke, Limpopo Bulle, Pumas, Cheetahs, Griffins en Leeus het deelgeneem.

‘n Pumas-speler gee die bal aan sy spanmaat uit.

Travel Sport was ook een van die borge en Gideon Pohl van die maatskappy het vertel dat hulle baie by sulke dae betrokke raak.

Die maatskappy stuur jong spelers oorsee om daar aan ander rugbytoernooie te gaan deelneem. Tydens dié rugbydag het hulle ‘n o.13-span gekies wat in Desember in Dubai teen spanne van ander lande sal speel.

Monnas se rugbyhoof, Wynand Moolman het gesê dat hulle die toernooi met trots vir die volgende drie jaar by hulle sal aanbied en dat dit vir hulle ‘n voorreg was om op so ‘n manier by laerskolerugby betrokke te raak.

‘n Valke-speler vang die bal.
Foto’s: Natasha Pretorius.

Die grootste oorwinning was dié van die o.13 Bulle wat 43 punte teenoor hul opponente, die Lions Courage-span se 5 kon aanteken.

Limpopo se o.13-span het naelskraap teen die Pumas gewen met ‘n telling van 35 teenoor 34. Nog ‘n skouspelagtige wedstryd was dié van die Pumas se o.12-span teen die Griffons. Die Pumas het teen halftyd reeds gemaklik voorgeloop en kon deurdruk om die wedstryd 38 teenoor 14 te wen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button