Kennies nou Leeus
Laerskool Kenmare se rugbyspelers kry binnekort die geleentheid om op die veld uit te draf vir die Goue Leeus se o.13 spanne.
Laerskool Kenmare se sport is nog altyd tops in Krugersdorp. Spelers en afrigters sit meer as net hulle alles in. Daar is altyd meer om te leer en nuwe vlakke om te bereik vir dié klomp.
Dwarsdeur vanjaar se rugby seisoen het die Kennies se o.13-spelers baie geoefen en hard gewerk om hulself by elke wedstryd te bewys. Op die ou end was dit die moeite werd vir ‘n uitgesoekte paar spelers, omdat rugby talentwerwers hul oë stip op hulle gehou het tydens sekere wedstryde.
As gevolg hiervan het Daniël Joubert, Dylan Vorster, Loewieke Roolvink en Dewan Koen die geleentheid gehad om ‘n paar proefrondtes te speel. Onlangs was hul ook gevra om by die Leeus se o.13-sewes spanne aan te sluit. Dit was omtrent ‘n vyf-week proses, maar dit was elke druppel sweet en elke oomblik van tawwe oefening vir die vier spelers werd.
Op Vrydag en Saterdag, 30 en 31 Augustus het die seuns aan ‘n oefenkamp by Monument Hoërskool deelgeneem, en volgende naweek gaan hulle Heidelberg toe om aan die Valke se bondedag deel te neem.

