Larries spog met beste Lim swemskool-kroon
Laerskool Tzaneen het as wenners uit die stryd getree by die jaarlikse Limpopo top-8 laerskole swemgala en het die algehele wennerstitel verower.
TZANEEN – Laerskool Tzaneen is die beste swemskool in Limpopo.
Tydens die jaarlikse top-8-laerskolegala op 2 November by die Tzaneense munisipale swembad, het Larries as die wenners uit die stryd getree.
Swemmers van Laerskool Pietersburg-Oos, Laerskool Julian Muller (Groblersdal), Unicorn Preparatory School, Laerskool Phalaborwa (Groenskool), Laerskool Bosveld (Ellisras), Laerskool Krugerpark (Potgietersrus) en Laerskool Tzaneen het in skoolverband deelgeneem.
Nie net het die Larries se meisies- en seunspan met die louere weggestap nie, gesamentlik was hulle ook die algehele wenners van die dag.
Mari Bruwer (o/13) is aangewys as die senior Victrix Ludorum, Jacques Liebenberg (o/10) is aangewys as die junior Victor Ludorum en Amery Vermaak het die meeste HyTek-punt van die dag (785) in die 50m-vryslag behaal.
Mari Bruwer het ‘n nuwe rekord in die 100m-vryslag opgestel. Sy het ‘n ou rekord wat opgestel is in 2017 van 1:08.43 na 1:07.37 verbeter. Amery Vermaak het ‘n 14 jaar oue 50m-vryslagrekord van 39.39s na 38.39s verbeter.



