Langasems geniet die Twee Oseane
Tzaneen se atlete het die afgelope Paasnaweek aan die Twee Oseane-marathon deelgeneem.
Busi Nyabana van Tzaneen Marathon Klub het die 56km-ultra-marathon aangepak. “Ek het al verlede jaar begin oefen vir die Two Oceans, so vir my was dit oukei gewees,” vertel Nyabana. Busi het die uitdaging aangepak vir haar drie kinders en het ter ere van haar ma, Joyce Nyambana, gehardloop. Sy het haar tyd van 2019 met 14 minute verbeter van 6:42 na 6:28:25. Nyabana vertel, “Vir my was die uitdagende deel by Chapmanspiek gewees.
Maar ek het dit ten volle geniet!” Sy sien ook uit daarna om in Augustus die Comrades-ultramarathon aan te pak. Sy het in 2019 haar eerste Two Oceans en eerste Comrades aangedurf en sê dat dit baie goed voel om weer tekkie op teer te sit. Sy het 268ste in haar kategorie geëindig en het 686ste plek algeheel gevat. Daniel Mabulana van Bolobedu Atletiek Klub het ook die 56km ultramarathon Sondag voltooi in 6:14:00.

Lees ook: Twee oseane in ‘n japtrap kaf gedraf
“Dit was ‘n moelike een as gevolg van die afstand en die hitte. Dit is ook die eerste ultramarathon wat ek vanjaar hardloop,” vertel Mabulana. Vir hom was die gedeelte by Constantianek en ook Chapmanspiek ook die uitdagendste gedeelte van die roete. Mabulana beoog om op 1 Mei aan die Sheshego-marathon buite Polokwane deel te neem. Hy is 354de in sy kategorie en 2008ste algeheel. Thomas en Luanne de Wet het die 21km halfmaraton voltooi in 1:38:02 en 2:01:14, onderskeidelik.

Marlien Erasmus en Alta van Eeden het die 21km halfmarathon saam gestap, siende dat Van Eeden ‘n besering het. “Ons het dit saam gestap vir gees en het net-net die afsnytyd gemaak,” vertel Erasmus. Sy en Van Eeden voltooi albei die 21km roete in 02:54:07. Hulle sien uit na die Tzaneen Lifestyle Spring Opener wat op 27 Augustus sal plaasvind.



