Tien uit vir Tian by Tickhill
Oud-Plasie en kranige krieketspeler, Tian Koekemoer, het geskiedenis gemaak by Shaw Lane-arena toe hy tien paaltjies platgetrek het in die Yorkshire Suidelike Premierliga in Engeland.
Koekemoer, ‘n oudleerling van Hoërskool Merensky het verlede Saterdag tien paaltjies in een wedstryd geneem toe hy vir die Engelse klub, Tickhill in die Suidelike Premierliga in aksie was.
Tickhill het teen die Barnsley Woolly Miners te staan gekom en het die loting verloor en Barsley het gekies om eerste te veld.
Tickhill het ‘n goeie telling van 189/8 opgesit met Koekemoer, ‘n ‘all-rounder’, wat 40 lopies van 69 balle geslaan het.
Dit is egter daarna wat Tian met die krieketbal getoor het om elkeen van Barnsley se paaltjies te vat. Tien in ‘n ry.
Hy het ses kolwers uitgeboul, een is been-voor-paaltjies betrap en drie is uitgevang, dit alles in 14.4 beurte en vir slegs 38 lopies. Barnsley se kolwers is almal uit vir 65 lopies en Tickhill het die wedstryd met 124 lopies gewen.
“Dit het vinnig verbygegaan en na 15 beurte is jy so moeg dat jy eintlik net bly is dat dit verby is,” vertel Koekemoer.
“Dit is ‘n nuwe hoogtepunt vir my,” vertel Koekemoer. Van die ander hoogtepunte in die 27-jarige se krieketloopbaan sluit in om die SA klubkampioenskap te wen met Tuks se eerstespan en ook die Varsitybeker.

Lees ook: Limpopo born Titans coach, Mandla keeps on flourishing
“Van daar af is ons na die Universiteite Wêreldbeker in Londen wat ons ook in 2014 gewen het, so ons was van al die universiteite as wêreldkampioen gewees,” vertel hy trots.
Hy is in 2015 na Gqeberha om by die Nelson Mandela Metropolitan Universiteit te gaan studeer op ‘n krieketbeurs.
Ek het in daardie tyd vir NMMU se eerstespan gespeel, vir Oostelike Provinsie en het vir die Warriors-krieketspan in so 35 wedstryde gespeel. My hoogtepunte daar was vir seker toe ons die provinsiale drie dag kompetisie gewen het en ook waar ek in die finaal 132 lopies teen Noordelikes geslaan het,” vertel hy.

Koekemoer wat verlede jaar by die Hollywood Bets Tuskers, oftewel KwaZulu-Natal binnelandstreek, geteken het, vertel dat sy kontrak met die Tuskers vir twee jaar verleng is. Hy, soos baie ander eersteklas krieketspelers in Suid-Afrika, speel in die af-seisoen oorsee terwyl hy sy tweede graad afhandel en nou, te danke aan Covid-19, sy eksamens aanlyn kan aflê.
Wat uitdagings aanbetref is Koekemoer dankbaar dat hy tans vir twee jaar beseringvry is.

“Ek het baie beserings gehad oor die jare… ‘n stres-fraktuur in my rug, gebreekte vingers, ek moes ‘n skoueroperasie kry en ek het my achilles-ligament geskeur … so dit was ‘n hele klomp beserings wat ek heeltyd moes teen terugveg, maar nou is ek statistiek-gewys een van die beste ‘all-rounders’ in die land. Ek dink vanjaar gaan ‘n goeie seisoen wees solank ek op die veld kan bly en fiks kan bly,” sluit Tian af.



