Tzaneense fietsryers geniet Sani2C-uitdaging
Een van Tzaneen se fietsryers het verlede week met gekraakte ribbes die Sani2C-berfietsuitdaging voltooi.
Die Sani2C ultrabergfietswedren bestaan uit ‘n 82km roete op dag 1, ‘n 97km roete op dag 2 en ‘n 86km roete op die finale dag.
Mario Ferreira het saam met Tyler Botha in spanverband aan die bergfietswedren wat van 12 tot 14 Mei plaasgevind het, deelgeneem.
Ferreira vertel: “Dit het goed gegaan op die eerste dag van die wedren en toe op die tweede dag, by die 42km merk, val ek met my fiets. Ons het toe die res van die dag se roete klaargemaak en die noodhulpwerkers gaan sien. Hulle het gesê ek mag nie verder ry nie, maar ek het toe ‘ja’ gesê en die volgende dag toe ry ons maar weer.”
Hy en Botha, van span Talisman North A het die uitdaging in ‘n totale tyd van 13:43:13 voltooi.

Twee spanne van Insect Science het ook die Sani2C aangepak. Keegan Bontekoning en Arno du Toit het algehele tweedeplek in die spankompetisie behaal in ‘n tyd van 8:58:25. Alan Gordon, wat sy vierde Sani2c voltooi het, het ingestaan vir ‘n beseerde ryer en het saam met Herman Fourie, ‘n junior ryer by die Insect Science-fietsryspan die uitdaging voltooi.
Fourie is ‘n oudleerling van Stanford Lake College.

Lees ook: Cycling 440km for charity
“Dit was goed om saam met Herman te ry. Hy het deurlopend ‘n konsekwente pas gehandhaaf,” vertel Gordon.
Gordon en Fourie het algehele sesde plek losgery in die spankompetsie en voltooi die ultrabergfietswedren in 9:40:23.
Zylon McGaffin, Ryan Hyde, Jan de Kok en Wilhelm Groenewald het as twee spanne vriende hierdie ultrabergfietswedren aangedurf vir die eerste keer.
“Dit was baie pret, en ‘n ervarnig om dit vir die eerste keer aan te durf. Hulle het ongelooflike roetes hier in KwaZulu-Natal,” vertel McGaffin.

McGaffin en Hyde het as die Dukesspan 23ste plek behaal in die resies en voltooi die roete in ‘n totale tyd van 13:56:50.
De Kok en Groenewald het deelgeneem as span Mahoepoe en het die driedag-uitdaging in 14:45:54 voltooi om 34ste in die spankompetisie te eindig. Johan Potgieter en Piet Pretorius het hulle Sani2C in 18:58:04 voltooi en is 79de oor die eindsteep.



