Local newsNewsNews

‘n Kampioen in wording

Dit is Rojandi Coetzee (11), wat hoop om eendag in die voetspore van Hestri Els (neé Cloete) te volg en haar Suid-Afrikaanse rekord in hoogspring te verbeter

Rojandi, ‘n gr. 5-leerder van Laerskool Lydenburg het verlede naweek by die afgelope Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (Sasa) se laerskoleatletiekkampioenskappe vir baan- en velditems in Germiston ‘n goue medalje in hoogspring verwerf.

Hierdie langbeen-buitelugkind het met ‘n hoogte van 1,50 m oor die dwarslat by die prestigebyeekoms geseil, haar beste persoonlike hoogte. Dít nadat sy verlede jaar by dieselfde kampioenskappe negende in die item geëindig het. Sy is ook ‘n kranige hekkiesatleet en het verlede jaar vir die 70 m-hekkies vir die SA’s gekwalifiseer waar sy ook negende gekom het.

Wat merkwaardig is, is dat Rojandi verlede jaar eers met hoogspring begin het.
Sy vertel dat sy nie gedink het sy ooit sou wen nie. “Ek het gehoop om onder die eerste drie te eindig, maar toe ek wen, was ek opgewonde en baie bly.”

Rojandi se pad na haar prestasie was nie sonder teëspoed nie. Sy oefen sedert verlede jaar twee tot drie keer per week onder haar bekwame afrigter, Reline Otto Swanepoel.

Volgens Jorina, Rojandi se ma het sy, nadat sy aan haar eerste skoleatletiekbyeenkoms deelgeneem het, haar enkel beseer. Sy was vir ‘n week op krukke en het intensiewe rehabilitasie ondergaan. ‘n Week voor die interlaer in Februarie kon sy weer begin oefen na drie weke se rus.

“Haar deursettingsvermoë by die interlaer het haar ‘n goue medalje met ‘n hoogte van 1,40 m in die hoogspring vir dogters o/11 in die sak gebring asook twee trofeë vir beste velditem en beste prestasie van die dag,” vertel Jorina.

By die Mpumalanga Kampioenskappe het sy weer met ‘n hoogte van 1,40 m gewen en gekwalifiseer om aan die Sasa-laerskole- kampioenskappe deel te neem.

“Sy het ons almal verbaas met haar sprong van 1,50 m.”

Die sportgene is in die familie. Jorina vertel sy was self baie sportief op skool. Sy het SA kleure in boogskiet en het internasionaal deelgeneem.
“Ek het wel nooit hoogspring en hekkies soos Rojandi gedoen nie, maar het ook hooggespring en ons vermoed sy kry haar lengte van my oupa af.”

Rojandi sê sy het van gr. R af aan atletiek deelgeneem. In gr. 1 was sy die junior victrix ludorum tydens die interhuis by die skool, maar het in gr. 3 harder aan haar atletiek begin werk.

Sy, haar ma en klein sussie woon op ‘n plaas buite Lydenburg by haar ouma en oupa. Hier het haar grootouers haar hoogspringvermoë help slyp met behulp van twee pale en ‘n lyn wat hulle bo-oor ‘n matras gespan het.

Buiten hoogspring neem sy ook aan hekkies, gewigstoot en naellope deel en sy speel netbal, doen landloop, speel hokkie en ry bergfiets! Haar toekomsdroom is om eendag aan die Wêreldspele en Olimpiese Spele deel te neem.

In haar eie woorde sê sy, “Dit nie gaan oor wen nie, maar om dit te geniet en jou beste te gee.”
Die gesin wil graag dankie sê aan Reline Otto Swanepoel, haar afrigter, Elmarie Nieuwoudt, fisioterapeut en Rina van Heerden vir hulle bydrae tot Rojandi se uitstaande prestasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button