News

Pandwinkel soek bewyse na verkoop van hek wat moontlik HTS gesteel is

Volgens die winkel het hulle al voorheen met die man wat die hek ingebring het besigheid gedoen.

’n Plaaslike pandjieswinkel erken dat hulle moontlik ’n gesteelde hek ontvang en verkoop het, maar sê dat daar huidiglik geen bewyse is om te staaf dat die hek wat verkoop is wel die hek is wat op 30 Januarie by Hoër Tegniese Skool Middelburg se hokkievelde gesteel is nie.

Skoolhoof mnr. Hoppie van Jaarsveld sê dat die skool se faktotum in kennis gestel is van ’n aanlyn advertensie op sosialemedia van ’n hek “wat hy herken het as die hokkieveld se hek”.

Mnr. Van Jaarsveld sê dat die hek wat geadverteer is reeds oorgeverf was, maar dat die faktotum na Odds & All toe is, waar hy die winkel in kennis gestel het dat die hek moontlik gesteel is.

Met sy terugkeer na die pandjieswinkel is die faktotum ingelig dat die hek intussen verkoop is.

Odds & All sê dat al hulle papierwerk in plek is en aan die polisie verskaf kan word, en dat hulle die skool aangeraai het om ’n kriminele klag aanhangig te maak.

Mnr. Van Jaarsveld sê die diefstal is by die polisie aangemeld.

Volgens die winkel het hulle al voorheen met die man wat die hek ingebring het besigheid gedoen.

Hulle sê dat hulle sy inligting volledig geneem het, asook die koper van die hek s’n.

As daar bewys kan word dat die hek wel HTS s’n is “moet dit aan die regmatige eienaar terugbesorg word,” sê Odds & All.

Die winkel voel dat dit “onverantwoordelik” sou wees om die man wat die hek verpand het se besonderhede aan die skool te verskaf.

Volgens Odds & All het die winkel al verskeie maal met die betrokke man besigheid gedoen “en nog nooit rede gehad om hom van enige misdrywe te verdink nie”.

Die skool het reeds sy versekeraar genader vir die vervanging van die hek, hoewel mnr. Van Jaarsveld sê die polisie ’n gemeenskapsplig het om die saak te ondersoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button