Kruger se stryd met satanisme voor Alison-aanval
Die veroordeelde verkragter, Theuns Kruger, wat nou weer in die nuus is nadat hy op parool vrygelaat is, na die aanval op Alison Botha, het in Januarie 1993 sy diensplig by 4SAI op Middelburg begin.
In sy boek “Grusaam”, wat in 2015 gepubliseer is, beskryf joernalis en skrywer, De Wet Potgieter, die aanval op Alison in die eerste hoofstuk, “Die Slagter-verkragters van Noordhoek” waar hy daardie verskriklike nag in detail beskryf.
Daar is ook ’n in-diepte onderhoud met Alison waartydens sy dit baie duidelik vir hom uitgespel het dat sy nooit ten gunste van parool vir Kruger en Du Toit sal wees nie.
’n Handgeskrewe bekentenis van Kruger is uit die tronk aan hom “gelek”.
De Wet is deesdae eienaar van die kuierkroeg op Kaapse Hoop, Nagkantoor.

Hy skryf op sosiale media: “In die lig van die polemiek rondom Kruger en Frans du Toit se omstrede vrylating, danksy die absurde stommiteite van die departement van korrektiewe dienste, sal ek graag die inhoud van Kruger se brief wil deel. Dit sal ook kan uitwys hoekom Alison na al die jare steeds in vrees leef.”
Kruger se skrywe uit die gevangenis lees as volg, soos op Nagkantoor se Facebookblad gepubliseer:
“My naam is Theuns Johannes Kruger. Ek is 23 jaar oud en ek doen tans lewenslank en 25 jaar in die Pretoria Maksimum Gevangenis. Ek gaan vir die leser vertel hoe ek hier beland het deur rebellie teen God en my betrokkenheid in satanisme.
Ek was al vanaf 1988 betrokke in satanisme. Dit het begin toe kolonel Kobus Jonker van die Okkulte-eenheid op Kareedouw by die skool kom praat het. Ons is na die kerksaal waar hy ons oor die okkulte en satanisme vertel het en ook bewyse gewys het soos foto’s van grafte, kinders, hekse se goeters soos die toegekettingde Bybel en die gebroke kruis.
Ek was baie rebels as gevolg van my ouers se egskeiding en dat hulle my nie op skool en sport ondersteun het nie. Hulle wou ook nie vir my sê waar is my biologiese vader nie, wat hulle ook tot vandag toe nog doen.
Ek het magteloos gevoel en soms het ek hard gebid en vir God gevra dat ek graag vrede in die huis wil hê en dat ek graag my pa wil sien, maar dit het nie gebeur nie. Ek het toe besluit om te rebelleer teen my ouers en God.
In 1992 is ek uit die skool na ek standerd agt slaag. In 1991 is een van my skoolmaats in die weermag dood tydens die onluste. Hy was een van die beste tromspelers in die kadette. Hy was ook een van my vriende. Hy was ’n ware Christen en het God se Woord uitgestraal op skool en op die sportveld.
Dit was my besluit op Piet se begrafnis dat ek ook weermag toe moet gaan om dood te gaan, dit was ’n ooreenkoms tussen my en Piet.
In Januarie 93 is ek na Middelburg (4SAI). Daarna stuur hulle my 2 Genie toe in die Vrystaat waar ek in 23 Veldeskadron was. Daardie jaar het die bevelvoerder van Kommandement Vrystaat besluit dat ons eenheid as “Raid Squad” opgelei moes word en op bystand moes wees vir die hele land.
Ons was Qwa-Qwa toe, Koppies, Vryheid, Kroonstad. Ons was ook op bystand vir Kathlehong en Tembisa. Ek het ook ander sataniste in die weermag ontmoet van Durban, Kaapstad en Johannesburg.
Eenkeer wou ek myself doodskiet met my R4 op die toilet maar my buddies het my gekeer. Ek het ook tydens onluste met hulle plekke geruil vir patrollies in die swart woonbuurte.
In begin Maart 94 het ek by Springbok Patrols begin werk as sekuriteitswag. Ek het nooit my ma gesien nie, want sy was teen daardie tyd in ’n ouetehuis. Sy ly aan Parkinsons en het suikersiekte.
Nadat ek in my voet geskiet is het ek my mede-beskuldigde, Frans du Toit, ontmoet. Hy was ’n satanis bo perke.
Andre Barnard was ook daar, hy is een van Port Elizabeth se bekendste sataniste. Hulle het onder die Van Stadensbrug, wat so berug is vir sy selfmoorde, ’n sel gehad wat deur die okkulte-eenheid oopgevlek is.
Ek en Andre en Frans het in die nagte na die St Mary-begraafplaas gegaan, swart kerse gebrand, beelde gesteel en grafte stukkend gegooi, waar ek by tye buite myself was. Hulle het my uitgedaag dat ek nie ’n graf sal stukkend slaan nie.
Ek het die een graf storm geloop en dit met ’n 4pond hammer bygedam en die dooie begin vloek. Ons het ook eenkeer tydens ’n erediens in die kerk ingestap en voor die kansel geurineer en die mense gevloek. Toe die kerk verdaag het die pastoor gevra waar ons vandaan kom. Ons het geantwoord: “The order of darkness”.
Die mense by wie ek gewoon het, het ook toe al op my senuwees gewerk deur die Bybel in my keel af te dwing, ek het hulle ook op die knop gejaag met ’n broodmes.
Drie dae voor die eerste misdaad het ek gevoel soos ’n zombi, ek wou net drink en niks doen nie. Ek het in die nagte in die stad rondgeloop en het baie rustig gevoel as dit donker was.
Die aand van 4 Desember 1994 het Frans gesê ons moet in die nag gaan rondloop, hy het my by die huis kom haal. Dit het toe uitgeloop op verkragting.

Tydens die verkragting het ek niks gevoel nie. Toe die polisie ons arresteer, het dit my die minste gepla. Dit was soos ’n groot grap, want ek het kort-kort uitgebars van die lag.
Die aand van 16 Desember 94 was net soos enige aand maar ek het gedrogte teen die mure gesien en was aggressief en het aan duiwelse planne gedink totdat Frans die mes in my hand gedruk en gesê het “kom ons gaan loop”.
Toe ek Alison sien het ek gevoel dat sy ’n Christen is. Sy het dit uitgestraal. Ek het haar verskriklik begin haat, dit was my intensie om haar in die vyfpuntster vas te maak en dan haar keel af te sny, haar hart uit te steek en te eet.
Ek het gewonder wat met my aangaan, dit was asof iets my gedryf het en het baie magtig gevoel.
Ek het besef dat iets baie sterk en vredevol ook daar was. Al hoe ek dit kan beskryf wat gebeur het is dat God en Lucifer in ’n stryd was. God het gesê “nee” en Satan met sy demone het gesê “ja”. God het natuurlik gewen, omdat Alison bly leef het.
Ek het niks teen vroue nie, vroue is tog geskape om ons lewensmaat te wees en om die lewe te deel met geloof, blydskap en vreugde, maar dit is ook van my weggevat.
Ja, ek voel skuldig, nie net teenoor my slagoffers nie, maar die vroue wat ek ontmoet, ek wil dan sommer vir hulle ook sê ek is jammer.”
