Breek venster vir R21 000
Diewe het Donderdag presies geweet waar 'n man meer as R21 000 kontant in sy kar versteek het.
Mnr. Petrus van der Merwe glo ‘n sindikaat hou mense dop wat groot bedrae geld trek en agtervolg hulle dan waar hulle die mense beroof of besteel.
Hyself was verlede Donderdag die slagoffer van ‘n groep van drie mans in ‘n Blou BMW wat hom agtervolg, sy voertuig se venster gebreek en die geld gesteel het.
Mnr. Van der Merwe werk gereeld in Liberië en moes ál die geld by Absa gaan onttrek, omdat hy nie ‘n kliënt van die bank is nie en omdat hy dringend sekere rekeninge moes betaal.
Hy het baie ongemerk alles probeer doen en selfs die kontant tussen ander papiere toegedraai.
Oppad na sy voertuig het hy die aardige gevoel gekry dat iemand hom agtervolg, waarop hy vinnig in sy kar gespring het. Hy het die geld in sy kar se deur versteek en dadelik van daar af na die tandarts toe gery om sy kind te gaan haal.
“Ek het reg voor die gebou in Bhimy Damanestraat gestop, naby die ingang, sodat ek die voertuig kon dophou.
Hulle moes egter agter my aangery het. Die oomblik toe ek my rug draai en by die tandarts instap, het ek iemand hoor skree dat hulle ‘n kar se venster stukkend geslaan het.”
Mnr. Van der Merwe het omgespring en na sy voertuig toe gehardloop, waar hy die skok gekry het dat hulle presies aan die kant waar die geld versteek was ‘n gat geslaan het.
“Die gat was net groot genoeg sodat hulle ‘n arm kon deurdruk en die geld kon gryp!
Daar is niks anders gesteel nie.”
‘n Sekuriteitswag in die omgewing het later vir hom gesê dat ‘n blou BMW, met drie netjies geklede mans in die voertuig, langs mnr. Van der Merwe se voertuig gestop het.
Een het uitgespring, die venster stukkend geslaan en die geld gegryp, waarop hulle met skreeuende bande weggetrek het.
Alles het só vinnig gebeur dat die sekuriteitswag nie kans gehad het om die registrasienommer neer te skryf nie.
“Dit moes iemand wees wat in die bank al gesien het dat ek die geld onttrek, my agtervolg en presies dopgehou het om te kyk wat ek daarmee doen. Dink wat kon gebeur het as ek direk na my huis toe gery het!
As hulle so ‘n leefstyl handhaaf van netjiese klere en ‘n nuwe BMW, doen hulle dit gereeld!”
Mnr. Van der Merwe sê hy loop of ry nooit met sulke groot geld rond nie, maar wou net by die tandarts stop om sy kind te kry.
Daarna wou hy dadelik die geld by sy eie bank gaan deponeer.
• Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om hom te kontak by 082 385 5249 indien hulle moontlik die blou BMW die betrokke dag in die omgewing van die Steve Dickanson gebou of naby die bank opgemerk of dalk ‘n registrasienommer neergeskryf het.
