Crime

Grypdiewe goed pakgegee

Slagoffers van grypdiewe neem nou die gereg in eie hande.

Daar was reeds twee gevalle waar grypdiewe hul rieme styfgeloop het, nadat hulle handsakke by vroue gesteel het. Die betrokkenes word anoniem gehou uit vrees vir vervolging.

‘n Vrou het vertel dat haar handsak Woensdag by die verkeerslig voor KFC in Cowen Ntulistraat gesteel is.

“Ek het vergeet om my deure te sluit. Toe ek weer sien vlieg my passasiersdeur oop en iemand gryp my handsak.”

Sy het dadelik haar kar afgesluit en die boef, wat in Cowen Ntulistraat in die rigting van O.R. Tambostraat gehardloop het, al skreeuend agterna gesit.

“Oral het winkeleienaars uitgekom en my probeer help.”

Die boef het haar handsak weggegooi toe hy sien dat sy besig is om hom in te haal en met haar beursie laat spaander.

“Daar was op daardie stadium drie mans wat saam met my gehardloop het om hom te vang. Ek het vir hulle gesê dat ek hulle sal vergoed as hulle my beursie terugkry.”

Sy is terug na haar motor en het om die blok gery, na waar die mans gehardloop het. Nie lank nie of hulle het haar beursie aan haar terugbesorg.

“Daar was nou wel so R50 gesteel, maar ten minste het ek my lisensie en kaarte terug.”

Die boef is laat gaan nadat hy ‘n ordentlike loesing gegee is.

• In nog ‘n geval het ‘n pa en seun saam met ‘n groep van hul werkers ‘n bende grypdiewe vasgetrek en aangerand nadat die seun gesien het hoe hulle ‘n vrou se handsak gryp.

Die boewe was so arrogant dat hulle net ‘n entjie verder, voor omstanders gaan staan en deur die handsak se inhoud gegaan het.

Gerugte dat een van die vier diewe wat ‘n loesing gekry het deur ‘n ambulans weggeneem moes word, kon nie bevestig word nie.

• ‘n Ander ooggetuie het vertel dat sy daagliks sien hoe korrupte polisiemanne en verkeerskonstabels die situasie in die middedorp uitbyt.

“Hier is polisiemanne wat in die straat rondloop en dan geld by die straatverkopers wat vervalsde DVD’s verkoop vat. Verkeerskonstabels kom te voet hier aan en trek mense voor KFC af. Ek het al met my eie oë gesien hoe geld hande verruil. Wat help dit hulle is hier as hulle net nog misdaad pleeg?”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button