Vyf gevang by treinresies
Vatso misdaad! Spanwerk tussen polisie reserviste en lede van die Middelburg 911 Zello radiogroep, het bewys dat misdaad wel vasgevat kan word, toe vyf mans Saterdag tydens die treinwedloop in verband met twee voorvalle van diefstal uit motorvoertuie gearresteer is.
‘n Lid van die Steve Tshwete Verkeersdepartement het die reserviste in kennis gestel van ‘n verdagte wat ‘n koelhouer van ‘n voertuig by die treinresies gesteel het. Die verkeersman kon ‘n goeie beskrywing van die verdagte, wat in die rigting van die middedorp gehardloop het, gee en hy is minute later deur reserviste naby Rex kafee vasgetrek.
Nog vyf verdagtes is gevang nadat lede van die Middelburg 911 groep hulself op sleutelpunte gestasioneer het om die hele middedorp te dek. Moontlike verdagtes is geïdentifiseer en dopgehou. Daar is gesien hoe hulle loop en voel aan motordeure en ook hoe hulle poog om iemand by ‘n OTM in John Magagulastraat te besteel. Videomateriaal is van die groep verdagtes geneem.
Die mans het hul rieme styfgeloop toe hulle by ‘n Volkswagen Golf in John Magagulastraat, naby die munisipaliteitskantore, ingebreek het. Hulle het ‘n sak met klere en ‘n iPhone gesteel en dit naby KFC onder ‘n boom weggegooi, toe die wêreld vir hulle te warm word.
Toe die mans agterkom dat hulle omsingel is, was dit reeds te laat. Die reserviste het twee mans gevang en die radiogroep het nog drie naby Pick’n Pay vasgetrek. Een verdagte is laat gaan, nadat die videomateriaal getoon het dat hy nie met die groep verbind word nie. Daar is afstandbeheerders, draadjies en tange by van die verdagtes gekry.
Die vyf verdagtes het na verwagting gister (Maandag) in die hof verskyn op aanklag van diefstal uit ‘n motorvoertuig.
•Kapt. Khanyisile Zwane, Middelburg polisiewoordvoerder, sê dat daar weinig diefstal uit motors aangemeld is hierdie week. Daar was Maandag ‘n voorval naby HTS Middelburg om 06:00 en Vrydag een by Kentucky Fried Chicken in John Magagulastraat by ‘n voertuig wat oornag daar geparkeer gestaan het. By beide voorvalle wat by die treinwedloop aangemeld is, is arrestasies gemaak.
Daar is 14 500 inskrywings vir die treinwedloop ontvang.
Gallery
