CrimeUpdate

Opvolg: Sou pad oopskiet vir roofverdagtes

Twee hofsake na twee voorvalle van gewapende roof, wat vier maande uitmekaar op die plaas Oostenwal in Laersdrift plaasgevind het, is op die nippertjie verskuif na 'n veiliger hof nadat inligting verkry is, dat daar moontlik 'n poging om ontsnapping gaan wees.

In die eerste saak sou David Magetle (37) van Mamelodi, Moshe Moiwaswe (29) van Turfloop, Godfrey Monareng (33) Thibana Mokgabudi (38) van Mashabela en Kide Raymond Phipe (34), ook van Turfloop, op klagte vir roof met verswarende omstandighede in die hof verskyn vir ‘n voorval wat in Junie gebeur het waartydens Japie du Toit en sy vrou Christina met wapens aangehou en beroof is.

Die tweede saak hou verband  met ‘n voorval ‘n paar weke gelede waartydens 11 gewapende mans op mnr. Du Toit se jongste seun, Hans-Jurgens, met vuurwapens losgebrand het. ‘n Grootskaalse soektog het daartoe gelei dat vyf verdagtes aangekeer is.

Twee is deur die Laersdrift polisie vrygelaat en een verdagte het aan sy wonde beswyk nadat hy tydens ‘n skietgeveg met boere gewond is
Die oorblywende twee verdagtes Samuel Matenchi (45) en Clement Nkuna (21), albei van Mamelodi, sou ook Donderdag in die hof op Laersdrift verskyn.

‘n Betroubare bron het aan die Middelburg Observer vertel dat inligting Donderdagoggend ontvang is dat daar gepoog gaan word om van die beskuldigdes uit aanhouding te ontset, deur vir hulle ‘n pad oop te skiet deur medepligtiges wat op vrye voet is.

Die rit van die beskuldigdes se plek van aanhouding in Middelburg na Laersdrift, die feit dat die Laersdrift polisiestasie nie oor selle beskik nie en die feit dat die hof reg langs die besige R555 is en dat beskuldigdes van ‘n kamer waar hulle aangehou word na buite gebring word en dan in die ope na die hofsaal,wat in ‘n tydelike staalhouer gehou word, moet loop, het owerhede laat besluit dat die risiko net te groot was.

Die sewe verdagtes is toe op die laaste minuut na die Middelburg hof geskuif,en dit blyk dat dit ‘n wyse besluit was.

‘n Wit Volkswagen Golf GTI sonder nommerplate is deur owerhede tussen Middelburg en Stoffberg opgemerk.

Hy is toe later ook naby die Laersdrift polisiestasie gesien en hy het die toneel verlaat toe dit aan die lig kom dat die verdagtes nie op Laersdrift gaan voorkom nie.

Beide sake sal van nou af in Middelburg gehoor word waar die sekuriteit heelwat beter is.

Matenchi en Nkuna sou gister (Donderdag) aansoek doen om borg.

Back to top button