Ou reuse afgekap
Regter: Mensdom. Versagting: Geen. Voltrek deur: Giftoediening, saag. Die reuse ou bloekombome wat al jare ongestoord langs die Klein Olifantsrivier staan, het hulle stryd teen die mensdom verloor. Nadat die bome ontbas en met gif besmeer is, het hulle bassie vir bassie, weer begin groei, totdat groen blaartjies oral uitgesteek het. Hulle laaste poging tot …
Regter: Mensdom.
Versagting: Geen.
Voltrek deur: Giftoediening, saag.
Die reuse ou bloekombome wat al jare ongestoord langs die Klein Olifantsrivier staan, het hulle stryd teen die mensdom verloor.
Nadat die bome ontbas en met gif besmeer is, het hulle bassie vir bassie, weer begin groei, totdat groen blaartjies oral uitgesteek het.
Hulle laaste poging tot lewe was verniet. Die bome word volgende week afgesaag.
Die Working on Waterprojek van die Departement van Omgewingsake gaan die reuse bome langs John Magagulastraat afsaag.
Me. Daleen Lamprect (Hoof, parke) het bevestig dat hulle ‘n kennisgewing van die Departement van Omgewingsake gekry het dat dié uitheemse bome verwyder gaan word.
Sy sê dat die stadsraad verlede jaar reeds 40 inheemse bome, waaronder Witstinkhout en Vaderlandswilge, langs die rivier geplant het.
Volgens DA raadslid Johan Dyason het me. Tshidi Maenetja (van Omgewingsake) hom meegedeel dat hulle volgende week reeds gaan begin om die 25 bome te verwyder.
“Wat wel vir my ‘n bekommernis is, is of die kontrakteurs wat hulle aangestel het, wel die ervaring en ondervinding het veral met die groot bome langs John Magagulastraat. Indien hierdie bome verkeerde kant toe val is ‘n paar huise weg.”
Van hierdie bome is reuse, veral een wat reg langs die pad staan.
Rdl. Dyason sê die departement se verweer is dat dit ‘n uitheemse spesie is en dat hulle ook ‘n bedreiging is, aangesien van hulle op huise kan omwaai met ‘n sterk stormwind. “Hulle het ook onderneem om inheemse bome te plant om die bloekombome te vervang.”
Een van die inwoners wat glad nie gelukkig is met die stand van sake nie, is dr. Kobus Terblanche.
“Die stadsraad het destyds nie geweet van die ringbas van die bome met die Working on Waterprojek voor dit te laat was nie. Hoe kon hulle dit doen sonder die stadsraad se kennis en goedkeuring? Die helfte van hierdie bloekombome is dood.
Daar is ook wilgerbome geringbas. Wat hartseer is, is dat dit suurstofmasjiene is wat hulle geringbas het en nou gaan afkap! En van daardie bome is byna 100 jaar oud!”
•Om kommentaar te lewer op hierdie berig, sms die woord TREES, gevolg deur die boodskap na 37940. Sms’e kos R1.50 per sms.
daleen@mobserver.co.za
