Municipal

Kanonkop Wyk 15 tussenverkiesing

Politiek is ’n vuil spel en die vurige reaksies oor die Kanonkop tussenverkiesing op Middelburg Observer se Facebook-blad het Woensdag oorgespoel na die stemlokale waar kandidate en partyleiers mekaar die oog gegee het.

Buiten die openlike vyandigheid het alles egter glad verloop hoewel die verkiesingsbestuurder, mnr. Buks Olivier, Laerskool Kanonkop se hekslot met ’n moersleutel moes afbreek omdat die faktotum nie opgedaag het soos afgespreek is nie.

Stempunte moet volgens die verkiesingswet op vasgestelde tye oopmaak en spesiale toestemming moet verkry word om planne aan te pas as dinge skeefloop, soos om stempunte later oop te hou as daar lang rye is na toemaaktyd.

Nadat mnr. Olivier die terreinpersoneel opgespoor het is die faktotum eindelaaste in die hande gekry en die saal oopgesluit om 07:10.

By Hoërskool Kanonkop het dinge maar stadig begin en twee van die DA se staatmakervroue, Anphea Grobler en Beatrice Britton het maar die breisakke saamgebring, want stemdag is ’n lang dag.

Die tent van die onafhanklike kandidaat, mnr. Barend Weber, was anders as die DA en ANC, maar effens vervelig sonder vlae en balonne en plakkate.

Hy het nietemin ontspanne gelyk en geskerts dat hy “vroegoggend by Laerskool Kanonkop sy kruisie gaan trek het want die DA moet darem een stem kry”.

Daar was gemengde gevoelens by die stemlokale oor die uitkoms van die byverkiesing hoewel die DA oortuig was van ’n oorwinning in die wyk wat nog altyd in hul hande was.

Maar op Facebook was daar ongekende steun vir die ANC kandidaat, Rehana Pilodia, wat soos altyd koel en kalm by die stempunte haar rondtes gedoen het.

Die Observer berig in Vrydag se uitgawe volledig oor die uitslae van die verkiesing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button