Geen papier, geen lesensieskyf
Mpumalanga se verkeersdepartemente sit al twee weke sonder papier.
Die gevolg is dat nuwe voertuie se verkope nie geregistreer kan word nie, en lisensieskywe ook nie hernieu kan word nie.
Die openbare veiligheidshoof, mnr. Ahmed Seedat, sê dat handelaars net twee dae gevra is om vas te byt “want as ons hulle gehelp het, sou ons lede van die publiek wat hul skyfies wil hernieu, moes wegwys”.
Mnr. Seedat sê die probleem is nie plaaslik by die verkeerskantore nie, dit was ‘n provinsiale probleem nadat die papier by die staatsdrukkers “opgeraak het”.
“Die papier word uitgereik met watermerke en reeksnommers sodat dit nie gekopieer kan word nie,” verduidelik mnr. Seedet.
Hy sê net “gesigwaarde dokumente, soos voertuigregistrasies,” kon nie uitgereik word nie.
Mnr. Louis Kruger het dit beaam, nadat hy verlede week weggewys is met registrasiepapiere.
“Padvaardigheidsertifikate is net vir 21-dae geldig, en daar is aan my gesê die probleem kan twee tot drie weke duur,” het hy aan die koerant genoem en gevra wie die kostes van nuwe padvaardigheidstoetse gaan dra, sou syne verval?
Van’s Auto eienaar, mnr. Leon van der Westhuizen, sê hulle verkope van voertuie en motorfietse wat verlede week nie geregistreer kon word nie, staan al op 10.
“Dit help ook nie jy skakel die kantore nie, die telephone lui net,” kla hy oor verlore besigheid.
Mnr. Van der Westhuizen sê dit was beslis nie net twee dae se oponothoude soos mnr. Seedet dit afmaak nie.
“Ons vra verskoning vir die ongerief, die probleem geniet prioriteitsaandag,” het mnr. Seedat voor druktyd verseker.
DA raadslid, San-Marie Wait, was kort voor druktyd egter van mening dat die probleem dalk eers teen Woensdag opgelos sal wees, na gesprekke met die supervisor van die departement.
“Iewers verdraai iemand die werklikheid,” sê die gesoute raadslid.
