DA leier roep halt
Mpumalanga se politieke landskap is in rep en roer na die aankondiging van die DA leier, mnr. Anthony Benadie, dat hy homself nie weer verkiesbaar sal stel as leier in die komende kongres nie.
Die kongres waartydens ‘n nuwe leier verkies sal word, vind in Maart volgende jaar plaas.
Op 7 Maart, met sy uittrede as leier, sou Benadie sewe jaar en agt maande in dié pos wees nadat hy die eerste maal in 2007 tot die wetgewer as hoofsweep verkies is en kort voor sy herverkiesing in 2009, die leisels as partyleier by die politieke veteraan, mnr. Clive Hatch van eMalahleni, oorgeneem het.
Benadie het in sy aankondiging gesê dat dit nou tyd is vir vars bloed om die party, wat die afgelope paar jaar ongekende groei onder Benadie gehandhaaf het, in ‘n nuwe rigting te stuur.
Onder Benadie is verskeie tradisionele ANC wyke by die regerende party afgerokkel en kon die DA ook daarin slaag om 138 000 stemme op hom te verenig in die afgelope algemene verkiesing.
“Verandering bring groei,” het hy Maandag gesê en bygelas dat hy die moeilike besluit geneem het om die party meer aanloklik te maak vir alle Suid-Afrikaners te maak.
“Die besluit om verandering op die mees senior vlak van die DA in die provinsie te weeg te bring, is die regte besluit en ek vertrou dat dit net positiewe resultate vir almal inhou”.
Hy sal steeds aanbly by die DA “met die fokus op ‘n sterker provinsiale en nasionale loopbaan waaraan ek voortaan sal bou,” sê hy.
Benadie se aankondiging was ‘n groot besprekingspunt onder raadslede tydens verlede Donderdag se sitting.
