Kort verkeersman, lang stories
Mnr. JP Nortje is Vrydag met R500 beboet deur 'n "kort" verkeersman wat nie die lisensieksyf bo in sy voorruit se regterkantste hoek kon sien nie.
‘n Ontstoke mnr. Nortje was maar een van vele motoriste wat hard op die tong moes byt die afgelope twee weke, weens die verkeersdepartement se tekort aan papier, en in mnr. Nortje se geval, “kort verkeersmannetjies”.
In die verlede was die verkeersmanne kort van humeur, nou is sommige net kort.
Deesdae gaan dit meer vredeliewend, met mnr. Ahmed Seedat aan die stuur van sake sedert Januarie by veiligheid, trap almal in hul spoor.
“Verskeie van ons verkeersmanne is reeds vir woedebeheerkursusse gestuur, en die kursusse gaan voort,” het mnr. Seedat Dinsdag bevestig.
Hy sê sy visie vir die verkeersdepartement is “dat kinders weer vir verkeersmanne respek sal hê, soos in Daantjie Kat se dae”.
Ten spyte van die twee treetjies vorentoe met die humeure, moes mnr. Seedat egter die afgelope twee weke weer vure doodslaan oor lisensieskywe wat nié gedruk kon word nie weens ‘n tekort aan papier.
Maar, mnr. Nortje hét ‘n skyfie.
Hy sê die bakkie is splinternuut en “wettig” met verwysing na die bakkie en sy eie lisensies.
“Nee genade man, ek wou hom teen die windskerm vasgooi sodat hy die skyf mooi van naby kon bekyk,” protesteer mnr. Nortje, sigaret tussen die lippe, kort na die boete hom opgelê is.
Mnr. Nortje sal nou ‘n fototjie van sy skyfie neem en dit aan sy betoog moet heg vir korting op sy boete wat hy by die verkeersdepartement moet inhandig. “Ek is besig man, ek werk,” kla hy, maar gelukkig aanvaar die departement ook fakse by 013 249 7070.
Intussen is alles sedert Vrydag weer terug na normaal nadat 20 dose sigwaardepapier by die lisensiekantore afgelewer is.
Mnr. Seedat sê dat die 5000 folios papier “die departement ‘n paar maande sal hou”.
Motorhandelaars wat geen verkope kon registreer nie, en individue wat weggewys is, was almal teen Vrydag gehelp, sê mnr. Seedat.
Hy waarsku motoriste dat die Nasionale Padverkeerswet duidelik stipuleer dat lisensieskywe “links teen die windskerm, duidelik vertoon moet word”.
As die windskerm bo donkerder getint is, maak die verkeerswet dit duidelik dat die skyf onder die tint vertoon moet word.
Nietemin nooi hy mnr. Nortje om hom te kom sien.
•Lees ook die brief oor die diens by die departement in die Middelburg Observer.
