Municipal

Nuwe skoolkoshuis gebou

Die Mpumalanga Departement van Onderwys het in 2010 besluit om vyf skoolkoshuise in landelike gebiede regoor die provinsie te bou om sodoende onderrigkwaliteit te verbeter.

Vier van hierdie skole is reeds funksioneel en die vyfde skool, Nkangala Combined Boarding School, word tans in die Elandslaagte-omgewing, sowat 30 km uit op die Stoffberg-pad, gebou.

“Die skoolkoshuis sal ‘n belangrike rol speel om te verseker dat leerders van plaasareas, wat wees gelaat is en veral dié wat onder die broodlyn lewe, ‘n geleentheid gegun word om in ‘n bevorderlike omgewing te leef en te leer.” sê mnr. Gerald Sambo, Mediaskakelbeampte van die Departement van Onderwys in Mpumalanga.

Die regering sal deur hierdie inisiatief die uitsaksyfer, kinderarbeid en kindergeweld verlaag volgens ‘n verslag van die Mpumalanga Departement van Onderwys oor skoleinfrastruktuur.

“Wat veral van belang is, is dat hierdie leerders soos alle ander leerders in ander dele van die land, kwaliteit onderrig moet geniet.”

Die nuwe skoolkoshuis se planne is baseer op die R230 miljoen Emakhazeni Boarding School net buite Machadodorp wat uit die volgende bestaan:

• 24 klaskamers

• geïntegreerde voetpaadjies

• administratiewe blok

• 35 toilette

• rekenaarsentrum

• biblioteek

• wetenskaplaboratorium

• kombuis

• eetsaal

• kragopwekkers

• sportfasiliteite met kleedkamers en toilette vir sokker, netbal, tennis, rugby en basketbal

• aparte slaapeenhede vir dogters en seuns asook verskillende ouderdomsgroepe

Daar sal streng sekuriteit wees, soos by Emakhazeni, waar besoekers by die ingang en adminkantoor moet inteken. Wagte sal ook die skoolterrein patrolleer waar die geïnstalleerde kameras dalk iets kan mis. Onderwysers sal die leerders monitor en verpleegsters en sielkundiges sal aangestel word om na die mediese en emosionele behoeftes van die leerders om te sien.

Die bou van die skoolhuis behels egter dat plaasskole in die omgewing gesluit moet word omdat dit volgens die Departement nie volhoubaar is om goeie standaard opvoeding in hierdie skole te gee nie.

“Plaasskole sal uitfaseer word om multigraad-onderrig stop te sit en kwaliteitonderrig te verseker.”

Mnr. Bosman Grobler van die Demokratiese Alliansie (DA) se Provinsiale Wetgewing in Mpumalanga, is egter skepies en gekant teen die Departement se besluit omdat hulle voel kinders by hul ouers moet wees en deur hulle ouers opgevoed moet word.

“Ons ondersteun nie hierdie standpunt van die departement nie. Die gesinstruktuur is vir ons belangrik en ons stem nie saam met die feit dat ‘n gr.1-leerling

geen keuse gaan hê as om na die koshuis toe te gaan nie. Hier is net te veel blootstelling aan ouer kinders se invloed, onderwysers wat nie noodwendig bevoeg is om die werk te doen nie en ander eksterne invloede.”

Volgens Bosman is die Departement se standpunt dat kinders beter gevoed sal word en in ‘n beheerde omgewing sal kan studeer, net ‘n verskoning om die groot kapitale uitgawes te regverdig.

“Ons voel dat die huidige geboue gebruik kon word met beter sisteme en strukture. Beide die voeding- en die onderrigbekommernis kon bevredigend aangespreek word.”

En wat word van die ou geboue?

Baie van die plaasskole is aan die Departement verhuur deur die eienaars van die plase en hulle sal dit weer terugkry. Die geboue wat wel aan die regering behoort, sal vir ander projekte gebruik word.

Wat skoolfonds betref, is alles gratis. Of eerder gratis vir die leerders en hulle ouers aangesien iemand (belastingbelaters) wel daarvoor betaal. Die leerders se beddens word selfs opgemaak, wasgoed vir hulle gewas, uniforms aan hulle verskaf en nie hulle of hulle ouers hoef oor enige finansies te bekommer nie.

Clear Choice Builders is die hoofkontrakteurs en het die skoolkoshuis in September begin bou. Die bouwerk behoort teen volgende jaar April voltooi te wees.

Raadslid Muso Kubheka, voorsitter van die DA Jeug Youth in Mpumalanga, sê egter die skoolkoshuis is reeds agter skedule omdat die Departement slegs 12% van die eerste kwart se infrastruktuurbegroting vir die 2015/16 finansiële jaar spandeer het.

“Hoewel die termyn in Maart 2016 eindig, is dit onwaarskynlik dat die projek voltooi gaan word soos beplan.”

Die skoolhoofpos word tans geadverteer en onderwysers van die plaasskole sal moontlik aangestel word na ‘n keuringsproses om te sien of hulle hierdie nuwe klasopset sal kan hanteer.

Nkangala Combined Boarding School sal ongeveer 800 graad R tot graad 9 leerders kan akkommodeer en daar word beraam dat die eerste graad 12’s ná drie jaar ook by die skool sal kan matrikuleer.

Hierdie skoolkoshuis sal beteken dat kinders nie meer lang afstande sal moet aflê om by ‘n skool uit te kom nie en boonop sal hulle drie maaltye per dag ontvang. Die leerders sal oor ordentlike, veilige slaapplek beskik en hulle sal vir ? verandering iemand hê wat na hulle kyk en nie andersom nie.

Nou word daar net gehoop dat bevoegde bestuursintelligensie en -vermoë volgehou sal word sodat hierdie skool nie ook soos ander omliggende skole verwaarloos word na ‘n paar jaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button