Dis Kanaan vir die beeste
Dis vroegoggend. Die dun luggie is bewys dat die winter oppad is. Die eerste ryp het geval. In die oggend skemer bulk die beeste. Hulle weet wat voorlê, dis trektyd.

Vir die ouer diere is dit hulle soveelste trek. Hulle ken al die pad van Grootrietvlei op Bothasberg na Tigershoek in die Steelpoort vallei. Die volgende twee dae gaan hard wees. Maar die beloning aan die einde maak dit die moeite werd – plate blou buffelsgras en warm weer.
Die kallertjies het geen benul wat vir hulle voorlê nie. Vir die eerste paar kilometer hardloop hulle uitbundig rond. Mens is lus en waarsku hulle – spaar jou energie. Die pad is nog lank.
Hoe langer die pad raak hoe meer sak hulle uit. Later bestaan die agterste deel van die trektrop amper net uit kalfies op wankelende bene wat met ‘n sweepvoorslag aangemoedig moet word.
As hulle in die bosveld aankom is dit altyd komieklik om hulle eerste kennismaking met ‘n doringboom te sien. Die ruggies word krom getrek as hulle onder die doringtakke deurstap. ‘n Wag-‘n-Bietjie is beslis nie ‘n Black Wattle nie.
Vir meer as 150 jaar lank trek beesboere van die suur hoëveld na die soet Steelpoort bosveld. In die ou dae is die bosveld vermy in die somer. Dit was onmenslik warm en perdesiekte en malaria was nie speletjies nie. In die winter was die klimaat matig en die siektes weg.
Die waarde van bosveld gras wat in die somer gespaar is, is amper onmeetbaar.
“As jy die bosveld gras in die somer wei sal jy agt tot 10 hektaar per bees moet hê. Maar as jy hom spaar in die somer kom jy weg met vyf hektaar per bees in die winter. Vir die eerste paar maande eet hulle ook amper geen lek nie. Die gras het genoeg voedingswaarde,” sê Marius Botha, wat hierdie jaar vir die 47ste keer aftrek na groener weivelde.
Die suurveld in die hoëveld het amper geen waarde as dit doodgeryp het nie.
Hierdie jaar trek daar drie geslagte saam. Marius Botha (70), sy seun Marthinus (30) en kleinseun Naas (3). (Eers en laasgenoemde nie op ‘n perd se rug nie maar in die ‘waterkar’ – ‘n bakkie met proviant vir die ruiters.)
Ou tradisies en nuwe wêrelde bots as die beeste by die besige teerpad uitkom.
Die spanning loop hoog. Diere moet soveel moontlik van die teervlak afgehou word, uit die pad van vragmotors wat met ‘n verbysterende spoed teen die Bothasbergpas afgejaag kom, ten spyte van die rooi vlae.
Ruiters op perde moet sorg dat die trop bymekaar bly. Hulle trek langs die teerpad af, onder ‘n platkruin doringboom deur en dan by ‘n sjebeen verby.
“Marry me!” Skree iemand uit ‘n minibus taxi aan een van die ruiters.
Motoriste gaap die spulletjie aan. Sommige ry uit nuuskierigheid stadiger. Ander is geïrriteerd oor die oponthoud. Tyd is geld.
Agter op ‘n perd se rug, tussen bulkende beeste, kry tyd egter ‘n ander betekenis. Dis een voet voor die ander. ‘n Roete wat jy in minute met ‘n voertuig kafdraf word 45 minute. Heelwat langer as jy die beeste op langplaas laat wei.
(Langplaas is die plaaslike mense se naam vir die padreserwes, staatsgrond waar verhongerde diere dikwels deur veewagters gebring word om te wei).
Jou kop begin weer onthou van slow-living, ‘n yuppie term vandag, ‘n leefwyse 50 jaar terug.
Net voor die son sak bereik die trop hul oornag bestemming, 36 km verder. Die diere word ingetel om seker te maak dat daar nie een op die trekpad agter gebly het nie.
In een hoek van die klipkraal kry die perde kragvoer, groen kikuyu gras en meel. In die ander hoek slaan die ruiters kamp op – grondseil, matrasse, beddegoed.
Skaaptjops en braaibroodjies word oor ‘n kampvuur gebraai terwyl daar gesellig gekuier word. Party van die ruiters raak sommer so in die kampstoel aan die slaap. Dit was ‘n lang dag.
Die volgende dag se trek is heelwat rustiger. Daar is geen teerpaaie of haastige motoriste nie.
Die grondpad krul oor stroompies en deur apiesdoring slote. Die 21 km word met middagete klaar getrek. Die beeste is in die buffelsgras. Dit is die land van Kaanan vir hulle.
As die somer aanbreek sal hulle die opdraende pad hoëveld toe aanpak. “Die terug trek is baie rustiger. Ons slaap twee aande in die veld en laat die diere wei,” sê Marius.
“Ek spot altyd en sê my beeste loop meer in een jaar as wat party boere se diere in hulle hele leeftyd loop. Die Afrika beeste waarmee ons boer, maak dit vir ons moontlik om so te trek. Ander rasse sou dit nie hou nie”
Hy meen dat stygende brandstofpryse dit nie-winsgewend maak om die beeste die amper 60 km met trokke te skuif nie.
“Dit is ‘n eeue ou tradisie. En dit is dalk outyds. Maar dit werk vir ons.”
• Die trop van 350 diere bestaan uit Afrikaner en Boran beeste.
• Die trekgeselskap het uit nege perderuiters en twee vlagdraers bestaan.










