Weer Naas van die plaas
'n Besigheidseienaar in die industriële gebied het sommer vinnig lont geruik toe 'n 'boer van die Avontuur omgewing' kom vra het vir geld.

Frans van Dyk van Inyathi Tent & Canvas sê dat hy dadelik vir Naas van Heerden herken het na aanleiding van vorige berigte oor hom in die Middelburg Observer.
Daar is destyds berig oor die vriendelike boer wat sy “bankkaart by die huis vergeet het” en vra vir petrolgeld. In ruil daarvoor kan die skenker dan ‘n “bokkie op die plaas kom skiet.”
Mnr. Van Dyk sê dat Van Heerden eers met die werkers in die besigheid gesels en so die naam van sy teiken uitvind.
“Hy groet jou op jou naam asof hy jou ken.”
Naas is egter vinnig die pad gewys. Dit het hom nie afgeskrik nie en hy is van Inyathi na Le Bros, net af in die straat. Mnr. Van Dyk het egter die eienaar gebel en hom gewaarsku om nie vir die man geld te gee nie.
Mnr. Van Heerden het aan een van Inyathi se werkers gesê dat “die baas snaaks is. Hy het dan so baie geld en hy wil nie vir hom help nie.”
Hy het ‘n Nissan 1400 bakkie gery en daar was ‘n blonde vrou by hom.
Mnr. Van Heerden kon nie bereik word op een van die twee nommers waarmee die Middelburg Observer by ‘n vorige geleentheid met hom gepraat het nie.