News

Die Week in Middelburg Erfenis –27 Julie

27 Julie 1900 – Inname en besetting van Middelburg deur die Britse Magte

Op Vrydag 27 Julie 1900, vandag 126-jaar gelede, tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) word Middelburg beset deur die Britse-magte en word die dorp deur die waarnemende landdros aan die Britse Bevelvoerder oorhandig.

Inname van Middelburg

Na die val van Pretoria op 5 Junie 1900, retireer die Boere-magte tot by ’n strategiese posisie in die koppe by Donkerhoek, net oos van Pretoria. Na ’n beduidende geveg, ook bekend as die slag van Diamond Hill 11-13 Junie 1900, val die Boere-magte verder terug na die ooste.

Middelburg was die volgende groot sentrum langs die Oosterspoor spoorlyn. Lord Roberts se enorme mag begin nou hul opmars al langs die spoorlyn na Middelburg. Na ’n skermutseling met ongeveer 2200 burgers onder bevel van kommandant-generaal Louis Botha op 24 Julie 1900 op die oostelike oewer van die Groot Olifantsrivier (Lepellerivier), (16 km suid-oos van Groot Olifantsrivierstasie) val die Boere redelik ordeloos terug deur Middelburg na Belfast.

Foto 1: Brug oor die Groot Olifantsrivier (Lepelle Rivier) – die laaste skermutseling voor die inname van Middelburg het in die omgewing plaasgevind (Foto: Chris Pretorius)

Na die besluit van die Regering om nie Middelburg te verdedig nie en in afwagting van die oorname deur die Britte, word die Boere se Biersaal-hospitaal in Middelburg se pasiënte op Woensdag 25 Julie 1900 per hospitaaltrein afgevoer na Waterval-Onder.
Dit was waarskynlik een van die laaste NZASM treine wat uit die stasie vertrek het.

Ds Alewyn Burger, NG leraar van die dorp, beskryf hoe hy net betyds uit die dorp kon vlug voor die inname. Hy beskryf ook dat daar reeds verskeie Britse spioene in die dorp was voor die inname. Hierdie Joiners was almal Middelburgers, wat na die Natal-operasies aktief die Britte ondersteun het.

Die sentrum van gesag in die distrik was die landdroskantoor. Ten tye van die oorname van die dorp was die landdroskantoor in Oliver Tambostraat, waar die huidige Hooggeregshof gebou geleë is. Die waarnemende landdros, Van Woudenberg, was in beheer van die distrik. Die aangestelde landdros van die dorp, Gert Johan Wilhelm du Toit (1847-1922), het besluit om self by die kommando aan te sluit en het per skrywe op 21 November 1899 JWS Woudenberg, (waarskynlik Johannes Dirk Schutstal van Woudenberg (1875-1951)) ’n lid van die eksekuteurskamer in die dorp en lid van die versorgingskomitee, as waarnemende landdros aangestel. Hy was maar 26 jaar oud.

Foto 3: Landdroskantoor Middelburg na die inname van Middelburg (Die gebou het in 1907 afgebrand) (Foto: Epstein Poskaart – Rex Hilligan)
Foto 4: Middelburg ten tye van die Britse besetting – datum onbekend

Op Vrydag 27 Julie 1900 beset die Britse magte van maj. genl. JDP French se Cavalry Division en maj. genl. ETH Hutton se 1st Mounted Infantry Division, die dorp. Die hoofpad het suid van die spoorlyn geloop en die spoor by die bo-punt van huidige Walter Sisulustraat (oorkant die ou hospitaal) oorgesteek. Die Berede-magte het waarskynlik eerste inbeweeg en af beweeg in Walter Sisulustraat, om die Witkerk tot voor die landdroskantoor, waar die waarnemende landdros Van Woudenberg die dorp aan die bevelvoerder oorhandig het.

Van Woudenberg bly egter aan in die landdroskantoor en word bygestaan deur JP Toerien, na bewering die skrywer van die lirieke van die bekende lied Sarie Marais. Skynbaar het Van Woudenberg ’n goeie verhouding met die Britte gehad want hy fasiliteer dat Toerien, na hy oorgegee het, in Middelburg aanbly en nie soos ander Boere na krygsgevangekampe gestuur word nie.

Foto 5: Britse berede magte ontvang die oorhandiging van Middelburg voor die Landdroskantoor – Let op die rigting van die perde en die Landdroskantoor in die agtergrond (Foto: TAB – Tian Schutte – Foto KI Gerestoureer en gekleur)

’n Foto toon die berede soldate in Markstraat (OR Tambostraat) voor die landdroskantoor, tussen die Witkerk en die landdroskantoor met die besetting en oorhandiging van die dorp. Die Vierkleur is gestryk en die Union Jack is voor die landdroskantoor gehys. Verdere foto’s wys die marsjerende kolonne wat waarskynlik daarna die spoor oorsteek en die dorp in beweeg het.

Foto 6:  Britse Magte beweeg in Middelburg in – een van die Skotse eenhede lei die in mars – let op die Doedelsakspeler regs voor (Foto: TAB -Tian Schutte Foto KI Gerestoureer en gekleur)

Mev Janie Burger, eggenote van ds. Alewyn Burger, beskryf hoe verskillende huise onmiddellik opgekommandeer is vir gebruik deur die offisiere en die inwoners opdrag kry om hul huise te verlaat. Die bevelvoerende generaal vestig sy hoofkwartier in Highbury Hall, die woning van George Laver, ’n sakeman van die dorp en broer van Harry Laver Senior. Of hy die huis beskikbaar gestel het en of dit gekommandeer was, is onbekend. Daar is nie ’n kompensasie eis vir die huis ingedien na die oorlog nie, wat die persepsie laat dat die huis beskikbaar gestel is. Die huis het in Walter Sisulustraat gestaan waar die huidige Rinahof woonstelblok gebou is.

Foto 7: “Highbury Hall” die woning wat gedien het as die Britse Bevelvoerende Generaal se hoofkwartier. (Foto: (Wilson, 1902) – Foto KI Gerestoureer en gekleur)
Foto 8: Highbury Hall in Walter Sisulu straat voor dit gesloop is (Foto: Kobus Terblanche)

Alhoewel die magte in Middelburg hul hoofkwartiere vestig en verskeie eenhede vanuit die dorp ontplooi, skuif maj. genl. John French op 8 Augustus 1900 sy hoofkwartier na Wonderfontein. Op 21 Augustus 1900 hervat die Britse mag hul opmars uit Middelburg. Verskeie eenhede opereer egter steeds uit Middelburg.

Middelburg as die middelpunt van die die Britse operasies in Oos-Transvaal

Die verskillende magte ontplooi oral in die dorp. Mev. JF Vercueil beskryf hoe op elke oop stuk grond in die dorp tente opgeslaan word. Daar bestaan foto’s van ’n kamp op die markplein en Jack Hindon vertel hoe hy met ’n groep die dorp in die nag besoek het en die waens met slapende soldate op die markplein (die huidige Landdroskantoor terrein) aangetref het. Die Royal Engineers ontplooi teen die westelike koppie, wes van die begraafplaas.

Eenhede kamp ook suid van die dorp en gebruik Krugerdam vir swem, om wasgoed te was en suipplek vir perde, alhoewel ’n deel van die konsentrasiekamp dieselfde water uit die dam moes gebruik vir drinkwater!

Foto 9: Britse kamp op die Markplein, agter die Witkerk (Foto: ABO Webwerf
Foto 10: Kamp van die Royal Engineers teen die Westelike Koppies bokant Begraafplaas (Foto: Tania Kok)

Nommer ses veldhospitaal neem die Ebenhaezer skool oor en open ’n hospitaal op 28 Julie 1900. Die Guards Brigade Field Hospital beset waarskynlik die Gereformeerde Kerk en open ’n 40 bed hospitaal wat van begin Augustus 1900 tot 20 Augustus 1900 funksioneer. Hierdie kerk word later as skool vir die konsentrasiekamp kinders gebruik. No 17 Stationary Hospitaal open in die dorp op 17 Augustus 1900 en ontplooi op die oop terrein noord van die huidige Gereformeerde Kerk met ’n massiewe 400 beddens wat later verhoog na 600 beddens! Verskeie sinkgeboue is opgerig vir die hospitaal maar die pasiënte is in markiestente geakkommodeer. Teen 1902 word verskeie klagtes gerig oor die hospitaal “in die middel van die dorp” en word die nuwe Militêre Hospitaal vir die garnisoen in die Clubville area opgerig.

Foto 11: No 17 Stationary Hospitaal – die gebou links is die ou Gereformeerde Kerk (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus)

Die Witkerk het deurentyd as kerk gefunksioneer. Sondae is die Nederduitse Gereformeerde Gemeente (Witkerk) toegelaat om die kerk te gebruik vir eredienste deur eerwaarde TJA Maré, die plaaslike sendeling en moes die kerk teen 11:00 ontruim vir ’n diens vir die Britse magte. Die Britse eenhede het met orkes begeleiding deur die dorp na die kerk gemarsjeer vir die diens, tot ontsteltenis van die Boere.

Foto 12: Britse eenheid aangetree voor die kerk vir kerkparade. Let op die Konsentrasiekamp sigbaar op Kanonkop (Foto: Tian Schutte)
Foto 13: Britse soldate op hoek van Oliver Tambo straat oorkant die Witkerk in suidelike rigting. Polisie kantoor links by vlagpaal sigbaar (Foto Epstein Poskaarte – Rex Hilligan)

Massiewe logistieke influks vind plaas en ’n voorrade depot word rondom die goedereloods op die stasie gevestig. Massas veevoer vir die trekosse, perde en muile word opgegaar by die stasie. ’n “Perdekamp” is ingerig, waarskynlik in die area suid van die huidige SAVF Ouetehuis, terwyl die trekdiere in die area na die ooste van die dorp aangehou is, en daagliks oor die rivier gejaag is om te wei.

Foto 14: Voorradedepot by die Stasie (Foto: Rex Hilligan)
Foto 15: Voorrade Depot by die Stasie (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus)

Krygswet en ’n aandklokreël is ingestel vir inwoners en rond-om verdediging stellings is om die dorp opgerig om die dorp te verdedig. Wagposte is op die koppe opgerig en ’n fortifikasie met soeklig en kanon is op Kanonkop ontplooi.

Majoor W Peters van die 7th Dragoon Guards is as distrikskommissaris vir Middelburg aangestel om wet en orde in die distrik te handhaaf en die goeie guns van die inwoners te probeer werf. Hy is op 20 November 1900 opgevolg deur kapt. AM Waterfield van die 11th Bengal Lancers en bygestaan deur ’n lt. Tennant. Waterfield word ’n gehate persoon in Middelburg, weens sy onsimpatieke optrede teenoor veral vroue in die dorp. Mev Vercueil beskryf hom as “die wrede Waterfield”, ’n absolute despoot wat in die landdroskantoor “regeer”, met geen gevoel vir die vroue van vegtende burgers nie. Sy beskryf hoe dr Moorhead, die plaaslike geneesheer haar behandel vir “ingewandskoors” en aan Waterfield verduidelik dat sy te siek is om na konsentrasiekamp te gaan, waarop hy reageer “laat haar maar dood gaan”.

Foto 16: Handtekening van Militêre Magistraat Middelburg – Waarskynlik Maj Oeseley as opvolger van Kapt. Waterfield – aangesien sy eenheid as Royal Field Artillery aangedui word (Foto: TAB)
Foto 17 Britse offisier demonstreer ‘n Locomobile Stoomkar aan die geamuseerde inwoners van Middelburg – Foto moes tussen Januarie en Julie 1901 geneem gewees het a.g.v. die Rouband wat Offisiere moes dra na Koningin Victoria se dood (Foto: (Meintjies, 1976) – Foto KI Gerestoureer)
Foto 18: Feesvieringe in Middelburg tydens die kroning van Edward VII op 9 Augustus 1902 – Southampton House die winkel van Harry Laver Snr in Walter Sisulu straat versier vir die geleentheid – Interessant is dat daar ten tye van die Pro-Britse vieringe in Middelburg steeds vroue en kinders in die Konsentrasiekamp op Kanonkop was! (Foto: Laver versameling – Rose Antrobus)
Foto 19: Feesvieringe op Kerkplein (Later Rooth plein en tans van Blerk Plein) tydens die kroning van Edward VII op 9 Augustus 1902 (Foto: Tania Kok – KI Gerestoureer)

Vestiging van die Garnisoen

Na die sluiting van die Vrede van Vereeniging 31 Mei 1902 word ’n garnisoen in Middelburg gevestig. Die garnisoen ontplooi in semi-permanente geboue wat opgerig word in die huidige Golfsig-area. Die geboue was vooraf vervaardigde sinkgeboue wat ingevoer is uit veral Indië en na Middelburg verskeep is.

  • ‘n Bevelvoerende generaal woning word opgerig op die terrein van die latere Middelburg Hospitaal. Die luukse woonhuis van sink op ’n klip fondament het bestaan uit 11 vertrekke in ’n U-vorming om ’n oop binnehof met ’n breë stoep en aangrensende bediendekwartiere. Die stoep sluit ’n sonkamer op die Noord-Westelike hoek in en het ’n tipiese laat-Victoriaanse afwerking. Die gebou word later as Distrik Hospitaal vir Middelburg ingerig, maar is ongelukkig in die laat sestigerjare gesloop.
Foto 20: Bevelvoerende Generaal van die Garnisoen se woning (Foto: Kobus Terblanche)
Foto 21: Bouplan van die Generale Woning (Foto: TAB)
  • Offisiers Menasie word opgerig wes van die generaal se woning en aangrensend tot die offisierskwartiere. Die gebou sluit ‘n snoekerkamer en biblioteek in.
  • Offisiers Akkommodasie
Foto 22: Offisiers Akkommodasie (Foto: Rex Hilligan)
Foto 23: Kantonnemente Getroude Kwartiere (Foto: Tania Kok)
  • Militêre Hospitaal word gebou en No 17 Stationary Hospitaal in die dorp sluit.
Foto 24: Militêre Hospitaal vir die Garnisoen (Foto: Rex Hilligan)
Foto 25:  Militêre Kantonnemente Middelburg tydens die Garnisoen periode vanaf 31 Mei 1902 tot die onttrekking van die Garnisoen in 1908 (Foto: Epstein Poskaarte Rex Hilligan) (Foto’s geneem vanaf die koppie bo Golfsig waar selfoonmas tans staan)

Die kantonnemente word ’n massiewe geboue kompleks wat die grootste deel van Clubville en dele van Gholfsig beslaan het. Teen 1908 in die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog, word die garnisoen onttrek uit Middelburg. Die kantonnement geboue word per veiling verkoop.

Die offisiersmenasie word deur genl. Jan Smuts gekoop en na sy plaas by Irene vervoer, waar dit herbou word as sy privaat woonhuis. Die bevelvoerende generaal se huis word deur mnr. Wirth gekoop (daar is ook rekords dat dit deur Harry Laver Senior gekoop is). Dit dien as woonhuis tot dit in 1921 deur die hospitaalkomitee gekoop en ingerig word as Middelburg se eerste hospitaal. Die stadsraad koop een van die getroude kwartiere sinkgeboue en rig dit in Walter Sisulustraat op as die eerste permanente munisipale kantore op die terrein van die latere munisipale biblioteek.

Foto 26: Die Offisiersmenasie soos dit her-opgerig is in Irene (Foto: Smuts Museum)

1908 bring ‘n einde aan die Britse teenwoordigheid van agt jaar in die dorp en die ontrekking van die massiewe garnisoen het ’n enorme impak gehad op die dorp se ekonomie!

Bibliografie beskikbaar van die outeur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button