Video: Botshabelo – spookdorp van verval
Botshabelo is vandag 150 jaar terug deur twee Berlynse sendelinge, Alexander Merensky en Heinrich Gützner vir 500 Persiese thalers gekoop.

Die stukkie paradys langs die Klein Olifantsrivier is die “Plek van Toevlug,” oftewel Botshabelo, gedoop.
Alexander Merensky het aanvanklik vir hom en sy Christen volgelinge, wat deur koning Sekukhuni vervolg is, ’n tuiste daar gevestig.
’n Baksteenhuis is opgerig as pastorie, en terselfdertyd is daar ook begin bou aan ’n fort, wat vandag Fort Merensky heet en tot nasionale monument verklaar is.
In 1868 is die Botshabelo kerk opgerig en amptelik in Oktober 1871 geopen.
Teen 1873 was daar reeds 1315 bewoners, wat ’n klipgooi van Middelburg, ’n onafhanklike dorpsbestaan gemaak het.
Daar was ’n winkel, meule, boekbindery en ystersmid, en ’n skool is ook opgerig en later uitgebou en gebruik as opleidingskollege tot in 1979.
Die geboue het behoue gebly tot 1995 toe daar met skok aangekondig is dat 400 gesinne die grond eis.
Die getal het bly groei tot daar ongeveer 1000 eisers was wat hul kleim afgesteek het op die Plek van Toevlug.
Sedert die oorhandiging van Botshabelo in 2003 aan die Botshabelo Ontwikkelingstrust, wat die voormalige premier van Mpumalanga en dienende adjunkminister van justisie, mnr. Thabang Makwetla, insluit, staan die plek vervalle.
Nog die regering, nog die eisers, is gepla oor die behoud van die internasionale trekpleister, wat tot 2000 buitelandse toeriste per week gelok het en eintlik as nasionale erfenis verklaar moet word.
Talle huisies wat sedert 1965 opgerig is, soos die pastorie, staan nou nog, maar die krake wat sedert die eisers se oorname begin wys het, sal miljoene kos om te herstel.
Met die verkoop van Botshabelo aan die plaaslike munisipaliteit in die laat 70’s, het die voormalige kurator, me. Jeanette Fraser daar regeer met ’n ysterhand.
Die huisies is aan toeriste beskikbaar gestel en ’n Ndebele stat is gevestig.
Met behulp van me. Fraser, het die Ndebele vroue wêreldwyd getoer en met hul vlytwerk oral opskudding veroorsaak.
Vandag is daar nie ’n enkele Ndebele vrou oor nie.
Wild word links en regs gestroop en een van die sensitiefste natuurlike erfenisse, ’n broodboom woud, word bedreig met die grens aan Botshabelo waar die wildheinings lankal geval het.
Die Middelburg Observer kan vandag sonder om doekies om te draai sê Botshabelo is ’n bouval met geen hoop vir die toekoms nie.
Miljoene rande sal benodig word om die geskiedkundige dorpie na ere te herstel.
Selfs die kerk se mure begin kantel en afpleister terwyl ry op ry geelhoutbanke, die geelhouttrappe na die gallery en die unieke preekstoel kreun onder die verval.
Water lê in damme op die kerk se vloer, die klok is gesteel en die deure staan oop, soos dit geskop is om ingang te verkry.
Die pastorie wat as museum ingerig is, is selfs ’n hartseerder storie – daar’s niks, alles gebuit en geplunder om plek te maak vir drankbottels van vandaliste wat sommer vuurmaak op die houtvloere.
Die huise is vervalle, en staan toegegrendel, buiten vir dié wat deur eisers betrek is.
Met die Observer se besoek Donderdag het ’n waterpyp uit een van die bewoonde eenhede steeds gelek, en drie jaar later lê daar ’n moeras wat onbegaanbaar is.
In dié huis was die bad en wasbak se krane almal oopgedraai met geen mens in sig nie.
’n Vrou in die winkeltjie waar die laaste Ndebele vlytwerk van die hand gesit word sê bloot – “hulle (die Ndebele vroue) is lankal weg, niemand bly hier nie, hier’s nie geld nie”.
Meer as R21 miljoen wat onder meer deur die Lotto aan Botshabelo gegee is, word vermis, adjunkminister Makwetla het dit meer as ’n jaar terug self aan die Observer bevestig.
Maar heelaas, niks het verbeter nie.
Woendende eisers het verlede jaar begin gehuggies oprig omdat die munisipaliteit te stadig vorder met 1000 huise, ’n skool, winkelsentrum en, en…
Die SA Erfenis Hulpbronne Agentskap trek net skouers op.
Die regering trek net skouers op.
Die eisers stel net verdere eise, maar is nie in staat om die bewaringsgebied en reservaat te bestuur nie, dis ook duidelik gemaak deur adjunkminister Makwetla.
Selfs politieke druk van die DA dra geen vrug nie.