Koksakkie tref kinders
Die Koksakkie virus is die menslike vorm van bek-en-klou by diere, en minstens een kleuterskool is reeds die week gesluit weens 'n ernstige uitbreking op die dorp.
Die Een Treetjie Voor-speelgroep het ouers laat weet dat die skool die hele week gesluit is sodat die geboue, speelgoed, eetgerei, werksoppervlaktes en alles waaraan daar met kinderhandjies kon gevat wees, te ontsmet.
“Die primêre doel is om die kinders vir ‘n rukkie uit mekaar te hou, omdat die virus so aansteeklik is,” sê me. Anri Botha, hoof van Een Treetjie Voor.
Haar speelgroepie is klein en sy sê sy het die skool gesluit omdat die voorkoms van Koksakkie “gemiddeld te veel voorkom”.
Genadiglik is skoolgaande kinders nog nie getref nie, en kom die virus meer algemeen voor in kinders onder vyf jaar, hoewel volwassenes dit ook kan opdoen.
Volgens Laerskool Dennesig, C.R. Swart en Laerskool Middelburg, is nog nie ‘n enkele geval daar aangemeld nie, ook nie in die Graad R klassies nie.
Mnr. Pieter Fouche van C.R. het egter bevestig dat een van sy personeellede in die Graad R klassies, se seuntjie dit by ‘n speelgroepie opgedoen het.
Me. Charmaine Pieterse, hoof van Breintjieland, sê daar was twee gevalle by hulle en dat hulle soos Een Treetjie Voor, voorkomend opgetree het, deur die kinders dadelik uit die skool te verwyder tot die virus opgeklaar het.
Gansiekeur se hoof, me. Hannelie van Dam, sê daar was verlede kwartaal ‘n ernstige uitbreking daar, maar dat dit sedertdien nie weer kop uitgesteek het nie.
“Dit was gelukkig beperk tot een klas, maar bykans die hele klas is geraak,” het sy Woensdag vertel.
“Ons het soos Een Treetjie Voor goed ontsmet, speelgoed en oppervlaktes gewas, en mammas aangeraai om die siekes te dokter met vitamines,” sê me. Van Dam.
Soetdorings hoof, me. Ellen Hamilton, sê een van haar kindertjies se ma is ‘n verpleegster by Midmed, en dat sy vroeg reeds met die onderwysers daar kom gesels het oor waarna hulle moet soek by kinders om ‘n uitbreking te keer.
“Ons hou hulle dus baie deeglik dop en daar was gelukkig nog geen voorval by my aangemeld nie,” sê me. Hamilton.
Pediater, dr. Riekert Swart, het Woensdag gesê dat daar beslis onlangs weer ‘n groter toestroom van Koksakkie pasiënte was, maar dat die voorkoms van die virus normaalweg toeneem somer en herfsmaande as die seisoene draai.
Hy skryf die skielike toename ook toe aan die droogte en sê ouers moet op die uitkyk wees vir hoë koors, keelseer en ‘n blasierige uitslag twee tot drie dae na infeksie.
Die blasies vorm op die handpalms, voetsole en ook in en om die mond, wat ongemaklik is en veral by jong kindertjies bydra tot dehidrasie omdat hulle moeilik eet en drink.
Jonger kinders, veral onder twee, word die ergste geraak.
Die infeksietydperk strek gewoonlik vyf tot sewe dae totdat die blasies weg is.
Daar is geen behandeling teen die virus nie, en dr. Swart sê koors en pynmedikasie word voorgeskryf om dié simptome te verlig.
Hy weet van ‘n skool in eMalahleni wat ook ‘n week lank gesluit moes word weens die uitbreking van die siekte, en meen dis baie effektief.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
