Vrou sterf op dodelike hoek
'n Huiseienaar van Hendrina sit met sy hande in die hare omdat daar feitlik elke naweek 'n kar deur sy palissadeheinings bars.
Die huis van mnr. Hennie Combrinck is op die hoek van Joubert- en Kortstraat by ‘n stopstraat wat na links swenk.
Motoriste ry egter reguit oor die stop en beland dan in sy erf.
Vrydagaand is daar ‘n vrou, Simbiswa Shabangu, dood nadat die swart BMW waarin sy was, oor die randsteen gevlieg en teen ‘n boom op die hoek tot stilstand gekom het.
Ooggetuies vertel dat ‘n passasier wat saam met die vrou in die BMW was, van die draagbaar afgeval het omdat die paramedikus op die toneel, haar nie behoorlik ingegespe het nie.
Mnr. Combrinck sê die palissadeheinings verskil al hemelsbreed in kleur, weens die gereelde vervanging daarvan, wat nou sy sak lelik begin ruk.
Die polisie word telkens na die toneel ontbied, maar sê mnr. Combrink, soberheidstoetse word nooit op die bestuurders gedoen nie.
Die huis is geleë by die ingang na Hendrina.
‘n Insleepoperateur sê dat daar die afgelope twee maande reeds drie ernstige botsings was, en in een van die botsings het ‘n motor die lamppaal omgery.
Die operateur sê ‘n spoedwal sal baie help om botsings te verminder.
Hy vrees dat die elektriese substasie op die hoek ook in die slag gaan bly, en Hendrina dan in donkerte gedompel sal word weens die munisipaliteit se onwilligheid om aandag aan die probleem te skenk.
Daar is jare terug reeds gevra vir ‘n spoedwalle, maar mnr. Combrinck sê riffelstroke moet verder af geplaas word om motoriste se spoed te verminder, voor die groter spoedwal by sy huis.
Hy sê dat hy sedert 2002 nege maal sy palissadeheinings moes vervang, en dat hy elke keer ‘n R1000 bybetaling het.
“Wat my stomslaan is dat die polisie nooit soberheidstoetse doen nie, selfs Vrydagnag by die botsing waarin die vrou gesterf het,” sê hy.
Waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Mandla Mnguni, het Donderdag onderneem om dadelik ondersoek in te stel en die hoek te beveilig.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!








