‘Here, help tog net!’
Terwyl hy heen en weer gekoes het vir 'n vleismes, moes 'n man ook regop probeer staan terwyl sy aanvallers sy bene onder hom probeer uitskop het.
“Dankie Vader ek is by die huis,” was mnr. Piet Basson (67) se eerste woorde nadat hy Woensdagaand uit die Life Midmed Hospitaal ontslaan is.
Hy was nog erg lyfseer nadat hy Dinsdagoggend net etlike treë vanaf die belastingkantore in eMalahleni aangeval is.
Mnr. Basson het uitgekom by die kantore en die sekuriteitswag vriendelik gegroet.
By die deure het hy links gedraai oppad na sy voertuig, maar was net etlike treë weg, toe ‘n booswig voor hom inspring, hom met ‘n vleismes probeer steek en dreigend sis: “I want your car keys!”
Mnr. Basson was nog besig om te koes vir die mes, toe nog drie rowers op hom afstorm. Een van hulle was ook met ‘n mes gewapen.
Daar was net tyd vir ‘n skietgebed waarin hy gevra het: “Here, help tog net…!” waarna hy vir lewe en dood moes veg.
Een het sy hangertjie van sy nek afgeruk en ook die kettinkie om sy pols. Tussendeur is hy geweldig geskop en geslaan. Hulle het ook dreigend gevra vir sy selfoon.
Tussendeur die geveg het hy twee mans in die nabye omgewing gesien en om hulp geroep.
Een man het net gelag en weggestap en die ander een het gesê: “f… jou, help jouself!” en ook omgedraai en geloop.
“Baie mense sê hulle sal dit of dat doen as hulle aangeval word, maar dit is nie só maklik nie!”
Mnr. Basson het dit reggekry om een van die rowers raak te skop, hy het dadelik die aftog geblaas en verdwyn.
Die ander drie het egter nie opgehou om aan hom te ruk, slaan en skop nie en hy onthou hoe die messe gevaarlik naby aan sy lyf en kop verby geflits het. In die proses is sy kleure ook geskeur.
Hy was nog besig om teen sy aanvallers te baklei, toe hy ‘n polisie- of verkeersirene hoor. Dit het die drie booswigte laat skrik, waarop hulle gevlug het. “Die voertuig wat die sirene aangesit het, het nooit gestop nie, maar dit het gelukkig die rowers laat skrik!”
Geskok en lyfseer, het hy in sy voertuig gespring en “net begin ry.” Hy het sy vrou, Marie (wat in eMalahleni werk) gebel en vir haar gesê van die aanval. Sy het hom by hul kinders se huis in dié dorp ontmoet, waar sy hom in haar voertuig gelaai en met hom na die Life Midmed Hospitaal gejaag het.
Mnr. Basson is ‘n diabeet en kort na sy aankoms het sy suikertelling die hoogte ingeskiet. “Hulle sê dit was weens die skok.”
Met ondersoek is gevind dat van mnr. Basson se ribbes gebreek en gekraak is en hy het ook ernstige kneuswonde op sy lyf en been opgedoen.
Mnr. Basson sê dat hy die nag in die hospitaal nie kon slaap nie. “Ek het die hele tyd die een se gesig voor my gesien.”
Die aanval was geweldig traumaties, maar hy weier dat hulle sy geloof en sy verhouding met die mensdom verander. “Dit sal nie help om te haat nie. Ek sê net, dankie Here, ek is veilig.”.
• Me. Basson sê haar man was baie ongelukkig oor veral sy hangertjie, wat ‘n kruisie aangehad het, wat geroof is. “Ek het dit vir hom tien jaar gelede gegee toe hy ‘n hartaanval gehad het en hy het groot sentimentele waarde daaraan geheg. ‘n Hangertjie is egter vervangbaar! Ek sal ‘n ander een vir hom koop. Dalk het dit dan ‘n nóg dieper betekenis vir hom.”
Sy is ook erg getraumatiseer deur die gebeure. “As hulle Piet se karsleutel gevat en hom ingelaai het, het ek hom dalk nooit weer gesien nie.
Of as hulle hom omgestamp het, kon hulle hom doodgeskop het. My eerste woorde aan Piet toe hy my vertel het wat gebeur het, was net: “Dankie Here dat jy leef.”
