My Beurt: Johann Gresse
Te danke aan twee jaar se getroue (!) gimnasiumbesoek, het ek al verskeie gedragspatrone gewaar.

Hier is die agt wonders van die oefenwêreld…
• Die mense wat net dankbaar is om daar te wees:
Die uwe val in dié kategorie. Op ‘n goeie dag kan ons 20kg met selfvertroue bench press en op ‘n slegte dag bly ons by die huis. Ons is trots op die afwesigheid van ons kuite en weet nie altyd hoe die masjiene werk nie.
• Die fikse luiaard:
Dit is nou die Middelburgers wat met Comrades- en Ironmanhemde rondstap. Hulle hardloop vir 30min op die trapmeul, woon ‘n spinning-klas by en swem daarna 150 lengtes in die swembad. Kyk, hulle ís fiks.
Maar hulle parkeer omtrent binne die gimnasium se ontvangsarea want hulle is nie lus om die 50m van hul motor na die ingang te stap nie. Dit is logika wat ek nie altyd verstaan nie.
• Die groot ooms (jonk en middeljarig):
Hulle kan honderde kilogramme rondstoot, maar hulle sukkel gereeld om dit weer op die rakke weg te bêre en is oor die algemeen nie té trots oor die kuite-afwesigheid nie. Hulle hou daarvan om gym-woorde soos “progress” te gebruik en om flat caps te dra. Bedenklike vitamines is moontlik ook op die spyskaart…
• Die Simson-bende:
Lede wat wragties sterk is. Basies enige ou wat meer as 12 pull ups op ‘n slag kan doen.
• Die spieël-kykers:
Daar is tye wanneer ek ook in die spieël kyk. Maar dit is net om ‘n meisie te bewonder wat sterker is as ek. Dit is belangrik om die goue reël hier te onthou: as jy vir haar kan sien, kan sy vir jou óók in die spieël sien.
Maar dan kry jy die mense wat regtig daarvan hou om hulself in die spieël te bewonder. Hulle sal heel normaal die trappe na gewigte- en masjienarea bestyg, maar sodra hulle hulself in die spieël gewaar, verander hul gesigsuitdrukking heeltemal. Doeltreffende wenkbroue speel ‘n belangrike rol hier – hoe bekommerder die wenkbrou, hoe beter die pose.
• Die intimiderende skoolkinders:
As ‘n kompeterende individu, het ek lank terug langs ‘n skoolkind op die trapmeul gehardloop. Onthou hoe ek my bes probeer het om by te bly, maar toe ons vir twee minute teen 18km/h voortstoomroller, het ek taamlik benoud die aftog geblaas. (Kon nie die noodstopknoppie betyds druk nie en het taamlik grasieus – dit is wat ek eendag vir my vrou en kinders gaan sê – van die trapmeul afgeklim.)
• Die liberale individu:
Lede wat masjiene en gewigte op die mees kreatiewe maniere gebruik. Hulle sal byvoorbeeld hul arms in die bene-afdeling doen of hul skouers by die kuitmasjien oefen. Ek val ook in hierdie kategorie, maar dit is net omdat ek nie die handleiding verstaan nie.
• Die besigheidsmanne:Hulle loop met oorfone rond en praat kliphard hoe hulle net vir HR en management moet wag vir die groenlig. Hierdie gesprekke kan tot 40 minute duur. Waarna hulle huis toe gaan.
