News

Brief aan professor Cheryl de la Rey

Van: ’n Ouer...

Geagte professor Cheryl de la Rey.

Universiteit: Studentelewe. Jool. Varsitybeker. Studeer. Toekoms!

Tuks of Niks.

Vir ons was dit net Tuks – die Universiteit van Pretoria.

Trots het ons die eerste dag na jou geluister, dit is vier jaar gelede.

Ons was nie net trots op Tuks nie, maar trots omdat jy vir ons die Universiteit Pretoria versinnebeeld het.

Trots omdat jy met soveel entoesiasme vertel het watter waardige instelling Tukkies is. Die puik navorsing, die studente wat gesog is by werkgewers.

Ons het die 200 kilometer terug huistoe, met vertroue en geloof aangepak. Ons student was in goeie hande, het ons geglo.

Die duisende rande elke maand vir studiegeld, verblyf, tolhekke, studiemateriaal, selfoonkontrakte, kos, gimnasiumgeld en petrol, word met ’n glimlag betaal.

Jou kind word voorberei vir sy toekoms, glo ons.

Al is ons gewone salaristrekkers is elke Universiteit Pretoria rekening ten volle vereffen, maand vir maand, jaar vir jaar.

Daar was vele frustrasies van rekeninge wat jy nooit kry nie, dreigende SMS boodskappe wat foutiewelik aangestuur word.

Maar betaal het ons betaal, elke sent, elke verpligting.

Al het die veldtog gesê Fees Must Fall het ons steeds betaal.

Om die waarheid te sê, jaar na jaar meer en meer.

Nou is die Universiteit gesluit.

Die trotse prof van vier jaar gelede lyk verslae op Beeld se voorblad.

Ons krimp ineen om te lees hoe jy uitgeskel is.

Ons kinders stuur WhatsApp boodskappe wat ons laat sidder.

Ons slaap nie in die aande nie, ons is bekommerd oor hulle.

Jy as pa gee opdrag: “Bly weg, dink aan jou toekoms”.

Dan kom die boodskap terug: “As ons nie nou baklei nie, het ons nie ’n toekoms nie!”

Dit is kinders wat ’n sorgvrye studentelewe moet geniet, wat bou aan ’n toekoms.

Die Born Free-geslag.

Wat kleurblind gebore is.

Onder ’n nuwe vlag, ’n nuwe volkslied.

Wie se ouers nie weggevlug het oorsee nie, maar hier ’n verskil wil maak in Madiba se land.

Ons gaan steeds die maand betaal.

Maar ons het woede, ons het bekommernis.

Prof, jy kan ons geld vat, maar moet nie aan ons kinders vat nie.

Want nou vat julle aan ons kinders.

Ons kinders het geweldige vrese.

Vrese oor hulle toekoms.

Vrese oor hulle toetse.

Vrese oor eksamens.

Vrese oor vele ander verpligtinge.

Vrese wat van volgende?

Vrese oor die onsekerheid.

Vrese oor die vraestelle wat stukkend geskeur is.

Vrese oor die Desemberverpligtinge wat dalk nie kan plaasvind nie.

Vrese oor hulle eiendom.

Vrese oor hulle lewens wat in gevaar is.

Ons is nie onsimpatiek teenoor mense wat gratis onderrig wil ontvang nie.

Dit is hulle reg om te veg daarvoor.

Maar dit is ook ons kinders se reg om klas toe te gaan en te studeer.

Dit is nie die ongelukkiges se reg om ons kinders se vraestelle op te skeur nie.

Dit is nie hulle reg om klasse te ontwrig nie.

Dit is nie hulle reg om karre aan die brand te steek nie.

Ons sien Afriforum wil selfverdedigingsklasse vir studente aanbied by Tukkies.

Ons kinders wil nie selfverdedigingsklasse hê nie, hulle wil studeer.

Ons sien by die Pukke gaan studente steeds vreedsaam klas.

Wat is die verskil tussen die universiteite prof. De la Rey?

Ons wil nie in jou posisie wees nie.

Maar ons vra mooi: Jy sien die oproerige studente se optrede, maar asseblief prof, kyk ’n slag in die oë van ons kinders wat wil studeer, sien hulle vrese, sien hulle bekommernis.

Maar ongelukkig sal jy nie kan nie, want hulle is tuis, besig om te leer…te bekommer wat oor twee weke gaan gebeur?

Gaan dit Tuks wees?

Of Niks?

Back to top button