Gebede vir dorp
’n Deurnag gebedsaand word vanaand by die Lighuis gemeente, op die hoek van Pongola- en Sondagsrivierstraat op Middelburg, gehou.
Die gebedsaand begin om 18:30 met lof en aanbidding, waarna daar met gebede om 19:00 begin sal word.
Volgens past. Danie Venter sal daar gebedstasies wees wat fokus op verskillende temas soos ons dorp se skole, besighede, mense wat werkloos is, families, plaaslike regeringskwessies, plaasmoorde, grondonteiening en rassekwessies.
Hy nooi besigheidslui om hul visitekaartjies in te bring en teen die bord op te sit, sodat daar spesifiek vir hulle gebid kan word. Werklose mense kan ook hul name opgee vir gebede.
Mense kan enige tyd tussen 19:00 en 06:00 inkom vir gebede wat kan duur vir ’n paar minute of vir ure.
Vir enige navrae rakende die deurnag gebedsaand, bel past. Venter by 082 925 3582.
