Straatrowers slaan weer toe
Binne die bestek van vyf dae, het straatrowers twee keer in Walter Sisulustraat toegeslaan.
Daleen Naude, www.mobserver.co.za joernalis se dogter, Danelle, is Donderdagmiddag (24) met ’n wapen deur haar venster gedwing om haar deure oop te maak, waarna nóg drie rowers ingespring en hulle haar van haar beursie en ’n baadjie beroof het (berig in die Dinsdag uitgawe van dié Middelburg Observer).
Me. Jackie Kruger en haar 15-jarige dogter, Denisha, was sopas ook byna die slagoffers van straatrowers. “Ek bewe nou nog! Julle moet vroue waarsku!” het sy uitgeroep.
Denisha, ’n leerling van HTS Middelburg, het Vrydag haar heup seergemaak toe sy van een van die hoë stoeltjies afgeval het in een van die laboratoriums en me. Kruger het haar vanmiddag dokter toe geneem.
Hulle het afgery in Walter Sisulustraat en me. Kruger sê haar voertuig het net byna tot stilstand gekom by die verkeerslig op die hoek van Bhimy Damanestraat, toe sy hoor hoe ’n voertuig sy toeter blaas en iemand ook teen haar venster tik.
Sy vermoed die voertuig agter haar het gesien wat gebeur.
Me. Kruger het aangeneem die booswig wil haar deure oopruk, maar het gesien dat haar deur gelukkig gesluit is.
Sy het dadelik na links gekyk of alles reg is by Denisha, waarop sy op dieselfde oomblik die hand gesien het, wat probeer om die selfoon uit Denisha se hand te ruk.
“Ek het gelukkig nie heeltemal tot stilstand gekom nie en Denisha kon die selfoon terugruk.”
Me. Kruger het genoem dat baie ouer voertuie nie lugversorging het nie en mense hul vensters oopmaak.
Sy wil egter mense waarsku om veral in daardie area nie hul vensters oop te maak nie.
“Die polisie wéét dat hulle gereeld mense se deure daar probeer oopruk, kan hulle nie maar patrollies, veral te voet, doen, om hulle te vang nie?
• Me. Kruger het gemeld dat sy en haar man 10 jaar gelede, toe hulle net in Middelburg ingetrek het, op dieselfde dag byna slagoffers was van straatrowers.
Die booswigte het die oggend haar man se deure oopgeruk en later dieselfde dag dieselfde met haar probeer. Haar deure was gelukkig gesluit.
“Dit wys jou dat dit al jare gebeur!”
Lees meer nuus op die Middelburg Observer webwerf en gaan “Like” ook ons Facebook volg ons ook op Twitter en Instagram
