Adjunkhoof se moordenaars op parool
Familie van die destydse adjunkhoof van Hendrina wat in 1994 in sy slaapkamer vermoor is, is woedend dat hulle nie in kennis gestel is dat sy moordenaars uit is op parool nie.
Mnr. Piet Maritz (51) is op 25 Maart 1994 19 keer in sy bed met ’n mes gesteek. Sy kamervenster is oopgebreek en dit was duidelik dat daar nie tyd was om homself te verdedig nie, aangesien sy wapen nog by hom gekry is.
Net ’n paar los artikels is by hom gevat, waaronder ’n unieke horlosie. Dié horlosie is kort daarna tydens die arrestasies in die besit van een van die moordenaars gekry.
Elijah Kali en Johannes Sipho Mokoena, is sowat twee weke gelede op parool vrygelaat.
Hulle het destyds 40 jaar tronkstraf gekry vir moord en roof.
Mnr. Maritz se susterskind, Le Roux Steyn, wat ook in die saak getuig en van mnr. Maritz se huisware uitgeken het, het nie geweet dat hulle parool gekry het nie.
Hy was ongelukkig omdat daar nie ’n groter poging aangewend is om hom op te spoor nie, want hy sou beslis hul aansoek om parool teengestaan het.
Mnr. Steyn het gesê dat hy hom gaan wend tot Afriforum.
