Breek in na kar steel
Inbrekers het omstreeks 10:00 ’n rooi Kia Sportage in Dennesig gesteel en waarskynlik met dieselfde kar daarna ingebreek by ’n huis in Hibiscusstraat.
Die Kia Sportage (registrasienommer FKC021) is gesteel in Steve Bikostraat.
Sowat ’n halfuur later het ’n inwoner van Eikestraat (wat anoniem wil bly) gesien hoe twee voertuie, ’n silwer Polo (registrasienommer JDG342MP), asook die Kia stadig in Eikestraat (Kanonkop) opry.
By Vygiestraat het die voertuie ’n U-draai gemaak en weer terug gery vanwaar hulle gekom het.
Kort hierna het mnr. Carel Vos laat weet dat daar ingebreek is by sy huis in Hibiscusstraat (by die Eikestraat kruising).

Hy het pas aan www.mobserver.co.za vertel dat van die bure gehoor het hoe iemand aanmekaar die toeter blaas in sy oprit.
Hulle het nie veel notisie geneem nie en later gesien dat die voertuig inry by die oprit. Hulle het gedink die Vosgesin is tuis en het dalk vir hulle oopgemaak.
Die booswigte het egter die hekmotor buite aksie gestel en die hek oopgeskuif. Daarna het hulle die groot houtdeur met wat blyk ’n koevoet moet wees, oopgebreek.

Die polisie is tans nog op die toneel en mnr. Vos was besig om ’n lys van gesteelde artikels te probeer opstel.
Hulle kon egter al agterkom dat die inbrekers weg is met albei hul platskerm televisiestelle, ’n skootrekenaar, eksterne hardeskyf en ’n Samsung kamera. Die boewe het ook hul klein handkluis oopgebreek en duisende rande se juweliersware, waaronder ’n trouring wat meer as R30 000 werd, is gevat.
Mnr. Vos sê as hy ’n vinnige skatting moet maak, is die waarde van die artikels wat gesteel is, reeds baie meer as R100 000.
