Krok kuier by woonstelle
’n Nylkrokodil van ongeveer 1,8 m is Saterdag, 1 April deur mnr. Arthur Roden by woonstelle op ’n plaas net buite Marble Hall gevang.

Mnr. Roden vertel dat hy ’n oproep ontvang het vanaf ’n vrou, wat in een van die woonstelle woon op die plaas van mnr. Oosie Oosthuizen. “Sy het laat weet dat daar ’n krokodil is wat naby aan die woonstelle is,” sê mnr. Roden.
Na ’n geruime tyd se gestoei en spartel het mnr. Roden die krokodil gevang en band om sy mond gedraai om te verseker dat hy nie ’n vinger of hand verloor nie.
“Ek vermoed dat die krokodil vanaf die Elandsrivier af kom, want die plaas is nie vêr vanaf die rivier geleë nie. Daar is ook baie damme naby die woonstelle geleë, wat dit die ideale plek maak vir krokodille,” sê mnr. Roden.
Mnr. Roden het die krokodil vrygelaat by die Olifantsrivier naby die Schuinsdraai Natuurreservaat.
