Het blesbokke iewers gevrek?
Die bokke het Vrydag om 08:30 vanaf Mhluzi se rigting oor ’n koppie gekom, oor Wesstraat gespring, afgehardloop in Hoopstraat en beland in Walter Sisulustraat.

Daar is steeds geen teken van die twee blesbokke wat Vrydag in die sakekern van Middelburg rondgehardloop het nie.
Die bokke het Vrydag om 08:30 vanaf Mhluzi se rigting oor ’n koppie gekom, oor Wesstraat gespring, afgehardloop in Hoopstraat en beland in Walter Sisulustraat.
Die Dierebeskermingsvereniging is in kennis gestel, maar niemand kon naby die diere kom nie.
Op ‘n stadium het die bokke in die rigting van Hospitaalstraat gehardloop, maar ‘n motoris, wat hom nie gesteur het aan die polisie se waarskuwing nie, het die diere die skrik op die lyf gejaag, waarna hulle omgespring en weer in Walter Sisulustraat beland het.
Agter die ou Buco gebou het die diere oor die treinspoor gespring en in die rigting van Aerorand verdwyn.
Mnr. Searge Msiza (van die DBV), asook die polisie het die area gefynkam, maar kon nie die bokke opspoor nie.
Daar word nou gevrees dat die diere “Vang Miotapie” (in Engels Capture Myopathy) opgedoen en dalk iewers gevrek het.
• Vang Miotapie is ‘n toestand waar wilde diere se liggaam reageer op abnormale toestande soos infeksie, beserings, uiterste temperature of selfs vrees en stres, wat hulle binne ‘n kort tydjie kan laat vrek.
• As enigiemand die bokke iewers gewaar, kan hulle Daleen Naude bel by 013 243 1434 of die DBV kontak by 013 246 1201, waarna hulle dan die plaaslike Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (MTPA – vroeër bekend as Natuurbewaring) sal kontak.
Die MTPA Hoofkantoor kan ook gekontak word by 013 759 5300, wat dan van hulle kant af sal reël dat ‘n verteenwoordiger van die plaaslike MTPA die situasie sal hanteer.
