Hond veg verwoed teen kobra
Tydens 'n geveg om lewe en dood het 'n Jack Russell sy lewe gegee om sy eienaars se huis teen 'n wipneus kobra te beskerm.
Tydens ‘n geveg om lewe en dood het ‘n Jack Russell sy lewe gegee om sy eienaars se huis teen ‘n wipneus kobra te beskerm.
Die kobra het ‘n erge byt opgedoen, maar het oorleef.
Die kobra is deur mnr. Arthur Roden in Jasmynstraat in Marble Hall gevang, na die geveg met die Jack Russell.
Mnr. Roden sê die kobra was 1,6 m lank.
“Die eienaars van die huis het gesê dat hulle hond aanhoudend geblaf het, waarna hul die slang opgemerk het,” sê mnr. Roden.
Die Jack Russell en die slang het mekaar beetgekry, waarna die hondjie kort daarna gevrek het.
“Die slang het ‘n baie erge wond gehad weens die hond se byt. Ek het gedink die slang gaan vrek.”
Hy het die slang na Loskop Dierekliniek in Marble Hall geneem, waarna die wond skoongemaak en steke ingesit is. Die slang het ‘n inspuiting ontvang met antibiotika.
Die kobra het Dinsdag vir sy laaste antibiotika inspuiting gegaan en die wond lyk al baie beter.
Nadat hy goed aangesterk het gaan hy in die natuur vrygelaat word.
Mnr. Roden sê dat nie alle veeartse bereid is om ‘n slang te help nie, en hy bedank Greta, Corné en Fritz van Loskop Dierekliniek vir hul hulp.
